Schools

Groot gees by Kalanderfees!

Verlede week is daar min tyd agter die boeke spandeer en die weer het die ideale omstandighede geskep om 'n suksesvolle fees aan te bied.

POLOKWANE – Na twee dekades maak die jaarlikse Kalanderfees by Oosskool steeds opslae en sorg vir ‘n hele week propvol pret en vermaak.

Elke jaar, kort voor die Septemberskoolvakansie, word daar groot makietie by Oosskool gehou.

Die week word afgeskop met die sjokolade-atletiek en vir die res van die week is waterspele en ander pret aktiwiteite soos kaskarwedrenne, toutrek, springkastele, pret in die swembad en vele meer waaraan die leerders kan deelneem.

Ashley Goodes, Yoné Jonker en Jana de Beer geniet die warm son by die Kalanderfees.

Twee vriendinne, Cally Coetzer en Milah Liversage is dit eens dat dié fees die beste in die stad is. “Ek dink ons moet elke kwartaal ‘n Kalanderfees hê waar ons heel week net kan speel,” sê Cally.

Milah voeg by die item wat die lekkerste is, is sonder twyfel die waterglyplank met buitebande.

Bo en behalwe die dag se pret, kon die leerders op verskillende aande ‘n boyz-nite out en girlz-nite out bywoon. Donderdagaand moes hulle werk inhaal en dus het hulle aandskool gehad.

Henning Dafel glo hy gaan die langste aan die meganiese bul kan klou.

Vrydag was die laaste dag van die pret en die jaarlikse Mnr. en Mej. Lente is aangebied. Twee leerders uit elke klas in gr. 4 is gekies en die tema vir vanjaar se vertoning was ‘Grease Lightning’.

Leerders is beoordeel op hulle persoonlikheid, selfvertroue, ‘n dans en lied wat hulle moes opvoer en die algehele indruk wat geskep is.

Nadat die finaliste, leerders en personeel saam die danse gedoen het, is die wenners aangekondig, en die onderskeie titels is aan Ruben O’Reilly en Lara Olivier toegeken.

“Dit was lekker om op die verhoog te wees en ek is bly ek het gewen,” sê Lara.

Mej. en Mnr. Lente, Lara Olivier en Ruben O’Reilly.

Om die week op ‘n hoë noot af te sluit het Ampie du Preez vanjaar by Oosskool as gaskunstenaar opgetree.

Hy is bekend vir sy lied saam met krieketspeler, AB de Villiers, Maak Jou Drome Waar, Niks, Niemand en Plain Jane.

Related Articles

Back to top button