Local News

PLS se Ystertjies staan geliefde tannie Ann aan die dood af

Haar familie en kollegas sal haar onthou as iemand met 'n groot omgeehart, 'n helpende hand en baie empatie vir ander.

POLOKWANE – Die Ystertjies is welbekend onder leerders, ouers en personeel van Pietersburg Laerskool en aan die stuur van sake was die geliefde tannie Ann van der Lith wat op 3 September op die ouderdom van 59 jaar oorlede is.

Die Ystertjies is behoeftige kinders wat pouse kospakkies ontvang en as daar klere of skoene geskenk word, is hulle die begunstigdes.

Tannie Ann se jongste dogter, ook Ann, vertel haar ma was eers ‘n huisvrou voordat sy by PLS aangesluit het.

“My ma was ‘n omgeema en altyd daar vir haar kinders, die vyf van ons, en die Ystertjies. Sy het eers begin om soms jellie vir dié kinders te maak. Sy het ook broodjies vir die naskoolkinders gemaak en af en toe ingestaan vir die vrou wat destyds vir die Ystertjies gesorg het. So het dit toe gebeur dat my ma oorgeneem het. Sy was sewe jaar voltyds betrokke by die Ystertjies.”

Ann sê om vir die kinders te sorg was vir haar ma ‘n roeping.

“Sy het elke keer met baie liefde vir die kinders kosgemaak. Hulle was baie na aan haar hart en wanneer sy gehoor het van die probleme wat die kinders ervaar of die omstandighede waarin hulle woon, het dit haar hart gebreek. Haar liefde en omgee vir die Ystertjies was meer as net die bord kos, sy was opreg trots op elke kind wat oor haar pad gekom het.”

Ann se man, Chris is in 2014 oorlede en haar kinders sê hulle gaan die gereelde oproepe na hulle ma mis.

“Ons gaan dit mis om haar enige tyd te kon bel en net gesels. Ons gaan haar as mens baie mis, want al was sy ons ma was sy ook ons beste vriendin. Die een persoon by wie jy net jouself kon wees. Sy was iemand wat sonder oordeel altyd sou luister en na wie jy toe kon gaan as die lewe net te veel druk. Ons gaan haar lag, kos en liefde vir die lewe en die Here vreeslik mis.”

Ann word onthou as ‘n nederige mens met ‘n groot omgeehart. Sy was altyd gewillig om te gee, al het sy self nie baie gehad nie.

Haar empatie vir mense en hulle omstandighede was duidelik sigbaar.

“My ma was altyd bereid om te luister as iemand probleme het. Sy het ons geleer om so te leef dat mense Jesus se liefde in ons dade kan sien en ervaar. ‘n Mens moet altyd omgee vir ander, hetsy mens, dier of plant. Jou lewe moet gebalanseerd wees.”

Die voormalige hoof van PLS, Peet Bredenkamp, onthou Ann ook as ‘n omgeemens.

“Sy was baie lief vir die kinders en wou graag ‘n verskil in hulle lewens maak. Sy het haar werk met groot waardigheid gedoen.”

Ann word oorleef deur haar ma, susters, broers, kinders en kleinkinders. Haar roudiens is op 9 September by PLS se saal gehou.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button