Local News

Lida Fourie na 8 jaar finaal gegroet

Plaaslike tandarts, Lida Fourie (60), wat die afgelope agt jaar in 'n versorgingsoord versorg is, is op 8 September oorlede.

POLOKWANE – Lida het destyds ‘n hartaanval gehad wat die toevoer van suurstof na haar brein afgesny het, waarna sy breinskade opgedoen het.

Sy en twee van haar seuns het vroeg in Julie 2014 by ‘n koffiewinkel gekuier en nog voor hulle bestelling na die tafel gebring is, het Lida inmekaar gesak.

Sy is na Mediclinic Limpopo geneem waar sy onder verdowing gehou is.

Na ‘n maand het sy haar bewussyn herwin en is sy later na die Theuns Fichardt Hospitium oorgeplaas.

Sy was ‘n geliefde tandarts, hardwerkend en pligsgetrou.

Sy en Thys, haar man, is in 1983 getroud en het drie seuns.

“Lida was ‘n liefdevolle, toegewyde ma met ‘n opregte hart. Sy het vir haar medemens omgegee en sou uit haar pad gaan om dit te bewys. Sy was ‘n ware rolmodel en ‘n ma vir meer mense as net ons kinders. Sy het ander se geluk voor haar eie geplaas,” het hy gesê.

Hulle seuns, Dereck, Francois en Johan onthou dat sy hulle geleer het dat harde werk beloon word en dat sy altyd goeie raad kon gee.

Sy was ook reg om saam met ‘n mens te huil of lag, afhangende van die situasie.

Thys sê Lida was doelgerig en ‘n omgeemens.

“Sy het, soos ons almal, ook foute en gebreke gehad. Sy kon onreg nie verdra nie en het uit haar pad gegaan om mense te help en by te staan ongeag wat dit van haar vereis het.”

Vir Thys was Lida ‘n liefdevolle, lojale en kosbare maat deur dik en dun.

“Sy was gelowig en Godvresend en het my in alles ondersteun en bygestaan. Sy was ‘n uitstaande ma vir ons seuns.”

Lida se vriendin, Charla Roos, onthou Lida as ‘n vriendin wat altyd tyd gehad het vir gesels, luister en ‘n koppie koffie, al was sy baie besig.

“Sy het nie net in haar vriendinne belanggestel nie, maar ook in hulle kinders. As vriendin kan ek nie dink aan iemand wat ‘n ruimer hart en groter oop hand gehad het as sy nie. Sy was ‘n vriendin wat maklik kon lag en in jou vreugde deel maar ook maklik saam met jou kon huil. Sy was ‘n liefdevolle, wonderlike, hartlike vriendin, iemand wat baie gemis gaan word.”

‘n Ander vriendin, Marie Booysen sê: “As ek aan Lida dink, onthou ek haar warm glimlag. Haar liefde vir haar man en kinders en haar ware vriendskap deur dik en dun. Iemand wat nooit ophou glo en droom het nie. Sy was die vriendin wat jy dag en nag kon bel, wat altyd tyd gehad het vir haar mense, en tot laatnag melktert gebak het. Haar kerk en pasiënte, vriendinne en gesin was haar hartklop. Lida was iemand wat voluit gelewe het, en niks vir later gebêre het nie.”

Lida se teenwoordigheid, die laataand koffie en ‘n soetigheid daarmee saam gaan deur al haar vriende en familie gemis word.

Sy word oorleef deur haar ma Johanna Coertse (89), Thys en hulle seuns asook skoondogters en kleinkinders.

Haar gedenkdiens het vandag om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk Pietersburg op die hoek van Biccard- en Thabo Mbekistraat plaasgevind.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button