Local News

Reneé se aalwyne ‘n tuin-lushof

'n Aalwyn is 'n dankbare plant wat nie baie vra nie, meen Reneé Schoeman.

POLOKWANE – Die eienaar van Lodge Aloe-Hymn het hierdie aan die lede van die Pietersburg Tuinbouklub vertel. Hulle het verlede Dinsdag in Reneé se tuin met groot groen grasperke en ‘n verskeidenheid van 45 verskillende aalwyne vergader.

“Ons het 30 jaar gelede die kleinhoewe gekoop en hier was net bosse en ‘n klein vervalle gebou. Ek het gereeld tussen die bosse deur geloop, en soos ek geloop het, het ek gebid. Later was my roete só prominent en ons kon die paadjie wat ek getrap het oor die stuk grond sien.”

Reneé en haar man het die paadjie met plaveisel uitgelê en daarrondom tuin gemaak. In die middel van die tuin is daar ‘n sirkel met drie aalwyne.

“Hierdie aalwyne verteenwoordig God, Jesus en die Heilige Gees. Die meeste van die ander plante in die tuin is ook aalwyne. Ek het my liefde hiervoor by my ma gekry. Daar is verskillende tipes aalwyne. Party soek skaduwee, en ander son. Sommige is klein en ander groot. Ek hou daarvan dat hulle die mooiste blomme in die winter het.”

Reneé sê deur heuwels van verskillende hoogtes en groottes in die tuin te vorm help met dimensie, en haar wenresep is wat sy ‘n ‘kombers’ in die tuin noem.

“Dit is die blare en boombas wat in jou bedding is. Dit keer nie net die onkruid nie, maar help ook om die grond meer werkbaar te maak. Ek gebruik water uit ‘n tenk wat gesuiwer word vir die tuin en het twee bakke met perdemis en wurms in vir bemesting.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button