Local News

Jong meisies leer om te bak, brou, verf en versier

Gedurende die winterskoolvakansie het die vroue van die Finesse VLU Aandtak 'n pretdag vir meisies tussen agt en 12 jaar gehou.

POLOKWANE – Daar is net een manier om soetkoekies soos ouma s’n te kry en dit is om dit self te bak.

Gekoopte koekies proe nie naastenby so lekker nie en gaan ook nie so spesiaal wees om vir ouma te gee nie. Om soetkoekies te bak moet ‘n mens wel ‘n resep kan lees en dit is nie altyd iets wat by die skool geleer word nie.

Gedurende die winterskoolvakansie het die vroue van die Finesse VLU Aandtak ‘n pretdag vir meisies tussen agt en 12 jaar gehou. Hiér het die meisies geleer hoe om soetkoekies te bak, kolwyntjies te versier en naaldwerk te doen. Die meisies het blikkies geverf waarin hulle vetplante geplant het en klippe versier wat in die tuin gesit kan word.

Slide 1 |

Helena Bronkhorst maak ‘n geskenkpakkie reg.
Slide 2 |

Amé Semmet en Kiara van Dyk leer by Gerswin van Tonder hoe om soetkoekies te bak.
Slide 3 |

Ouma Amanda du Plessis help haar kleindogter, Hanna Augustyn, om die blik te verf.

    By ‘n ander stasie het hulle geleer hoe om geskenkpakkies te maak met heerlike eetgoed in. Die pretdag word Dogterskursus genoem en die doel daarvan is nie net om die meisies besig te hou tydens die vakansie nie.

    “Ons leer vir hulle basiese vaardighede aan soos koekies bak en knope aanwerk. Die kinders leer dit nie meer op skool nie en ons sien dit as ‘n gulde geleentheid om hulle te help,” vertel takvoorsitter Magda de Nysschen.

    Slide 1 |

    Xanté Bouwer verf klippe vir die tuin.
    Slide 2 |

    Truandrie Bekker versier ‘n kolwyntjie.

      Die kursus was twee dae lank en die 37 meisies wat dit bygewoon het, het dit baie geniet. Minke Bouwer vertel sy het sommer weggespring met die bak van soetkoekies: “Dit was glad nie moeilik om te maak nie en baie lekker.”

      Elke stasie was deur ‘n VLU vrou beman waar hulle die fynere tegnieke van die verskillende projekte vir die meisies geleer het. Een mamma het na die kursus die volgende vir De Nysschen gestuur: “Ek wil julle graag gelukwens vir die wonderlike kursus wat julle aangebied het en julle bedank vir die selfvertroue en trots wat julle aan my dogter deur dit gegee het.”

      For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

      Related Articles

      Back to top button