Local NewsNewsUpdate

Beskermde blokhuise nou net ‘n hoop bourommel

Die vonke spat behoorlik nadat die twee historiese blokhuise wat op die erf op die hoek van Voortrekker en Marshallstraat gestaan het, Maandagmiddag tot 'n hopie sinkplate en bourommel gereduseer is.

POLOKWANE – Dit nadat Polokwane Observer verlede week berig het dat dié strukture vir inwoners van die omgewing ‘n doring in die vlees geword het omdat dit in ‘n verwaarloosde toestand was en ‘n skuilplek vir leeglopers en misdadige elemente geword.

Die toekoms van die blokhuise was nog in die weegskaal nadat uitsluitsel om dit na ‘n meer geskikte rusplek te verskuif, afgewag is.

Die perseel was intussen omhein en die hek met ‘n slot gesluit en toe die toneel Maandagmiddag besoek is, was die heining steeds in plek en die hek weer gesluit.

Die blokhuise in Voortrekkerstraat was ‘n week gelede nog ongeskonde.

‘n Omstander wat anoniem wil bly, het beweer dat ‘n groep mans met ‘n bakkie verantwoordelik was vir die afbreek van die strukture.

Kultuurhistorikus Johan Willemse, wat hom vir die bewaring van die blokhuise beywer het, is hoogs ontsteld oor die verlies van hierdie kultuurskat en het bevestig dat hy strafregtelike klagte gaan lê om die persone wat vir die sloping van die blokhuise, sowel as die Zeederberghuis wat ook vroeër in die slag gebly het, tot verantwoording te roep.

“Hier in Pietersburg het – sedert dit Polokwane heet – ‘n laagtepunt in die Afrikaner se aanspraak op hierdie gedeelde Vaderland van ons plaasgevind,” sê Willemse.

Hy voeg by dat hy die meriete van die toestemming tot die sloping van die Munnikhuis ook gaan ondersoek.

Franco Marx, DA-raadslid in die Polokwane Munisipaliteit, is al ‘n geruime tyd besig om die stad se geskiedkundige gedenkwaardighede te besoek en mosies by die raad in te dien.

Hy is van mening dat alle inwoners moet hande vat om die historiese erfenis vir die nageslag te laat bewaar.

“Die DA Polokwane koukus doen ‘n beroep op inwoners wat graag betrokke wil raak, om met ons in verbinding te tree sodat ons idees kan deel oor hoe ons die dorp se historiese geboue gaan beskerm. Alle kultuurgroepe het ‘n ryk historiese geskiedenis met ‘n betekenis in die hede, en dit moet dus bewaar word,” sê Marx.

Die verantwoordelike amptenaar van die Limpopo Provinsiale Erfenishulpbronowerheid (LIHRA), Donald Lithole, kon nie Maandag of Dinsdag bereik word om kommentaar te lewer nie omdat die kantoor se telefoon onbeantwoord gebly het.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button