Local NewsNews

Breiklub skenk komberse aan Ngwana Babahuis

Lede van die Kreatiwityd Breiklub het saamgespan om babakomberse vir Ngwana Babahuis te brei.

POLOKWANE – Wanneer ‘n mens aftree, het hulle dikwels meer tyd om aan hulle geliefde stokperdjies te spandeer.

Tannie Sussie Redelinghuys (82) is ‘n inwoner by Macadamia in The Aloes en haar stokperdjie is om te brei. In 2021 het sy komberse gebrei vir die pasiënte in die Tough Living with Cancer-saal by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal.

Haar liefde vir brei het begin toe sy in die verlede saam met haar skoondogter, Annelie Redelinghuys, en kleindogter, Estee van Staden, begin brei het. Annelie is deel van die Kreatiwityd Breiklub en die lede het, saam met Sussie, saamgespan om babakomberse vir Ngwana Babahuis te brei.

“Rose Ramphele het ons gehelp deur al die rante van die komberse om te hekel. Ons koop self die wol aan by Capricorn Quilting en aangesien dit kleurvolle wol is, maak dit baie bont komberse, wat ideaal is vir kinders. Ons doel is om 30 komberse, genoeg vir elke bababed, te brei.”

Die projekbestuurder by Ngwana Babahuis, Louise van Rooyen, sê dit is ‘n welkome geskenk. “Die komberse is net groot genoeg vir die bedjies en dit is glad nie swaar nie, dus gaan die babas nie vasgedruk voel onder die gewig van die kombers nie. Ons is baie dankbaar vir hierdie skenking wat dit moontlik gaan maak vir ons kinders om warm te slaap.”

Annelie wil net graag die lede van die Kreatiwityd Breiklub bedank vir hulle bydrae.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button