EntertainmentLifestyle

‘Pot’ met ‘n verskil by Dag-ga Boys

Dag-ga-Boys Pub en Grill het Saterdag 'n potjiekoskompetisie aangebied ten bate van liefdadigheid.

POLOKWANE – Dag-ga-Boys Pub en Grill het Saterdag ‘n potjiekoskompetisie aangebied ten bate van liefdadigheid.

Die inskrywingsfooi was R150 per span en elke span moes hul eie driepootpot, gasbottel, vleis, groente en ander bestanddele saambring.

Dag-ga-Boys Pub en Grill het braairuimte en sitplekke vir ses persone per span voorsien. Die bykosse wat pap, rys en slaaie ingesluit het, is ook deur Dag-ga-Boys Pub en Grill voorsien.

Teen 17:00 moes alle potjies gereed wees vir beoordeling.

 

 

Pryswenners:

1. Celeste en Sous Greyvenstein se Osso Bucco, gemaak met koedoenek en beesskenkels, het ‘n R1 600 Dag-ga-Boys Pub en Grill geskenkpak gewen.

2. Eric Coetzee se skaapskenkelpotjie, het ‘n R1 200 Dag-ga-Boys Pub en Grill geskenkpak gewen.

3. Willem Nieman se kerriehoendermagies en -nekkies het ‘n R1 000 Dag-ga-Boys Pub en Grill geskenkpak gewen.

4. Steve Bezuidenhout se skaaprib- en stertpotjie het ‘n R900 Dag-ga-Boys Pub en Grill geskenkbewys gewen.

5. Rauol van Zyl se Griekse-skaappotjie, het ‘n R900 Dag-ga-Boys Pub en Grill geskenkbewys gewen.

Daar was ook ‘n loting met ‘n eletriese hekmotor, huishoudelik drukpomp, geskenk deur Stewarts and Lloyds, en ‘n geskenkbewys van Platinum Park Spar op die spel. Elke lotingkaartjie het R50 gekos.

Hendrik van der Merwe van Dag-ga-Boys Pub en Grill het vertel dat hulle R6 450 tydens die kompetisie ingesamel het.

“Die geld gaan aan ‘n plaaslike kinderhuis geskenk word. Daar is nog ‘n paar ander maatskappye wat ook bydraes wil maak voordat ons die finale bedrag aan die kinderhuis oorhandig. Ons sê baie dankie aan almal wat die initiatief ondersteun het,” het hy gesê.

Volgens Van der Merwe was dit die eerste keer, maar nie die laaste keer wat Dag-ga-Boys Pub en Grill hierdie liefdadigheidsprojek aanpak nie.

“Ons beplan om volgende jaar groter te gaan. Ons gaan twee kompetisies van die soort hou, een in die winter en ‘n tweede een in die sommer,” het hy gesê.

(FOTO’S)

Related Articles

Back to top button