Local NewsNews

Motorskou net buite Polokwane gaan koppe laat draai

Die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes nooi die gemeenskap uit om op 25 Junie saam te kom kuier tydens 'n unieke uitstalling van motorfietse en ou motors by die Protea Landmark Hotel.

MOKOPANE – Wat eers net ‘n ‘biker day-jol’ sou wees, het nou ontaard in ‘n heerlike museumdag vir almal, vertel Piet van Waveren, lid van die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes. Hy nooi die gemeenskap uit om op 25 Junie saam te kom kuier tydens ‘n unieke uitstalling van motorfietse en ou motors net buite Polokwane by die Protea Landmark.

Piet vertel na twee jaar van oortuiging het sy broer, Jan, besluit om sy unieke privaat versameling van voertuie, motorfietse en nog vele meer met die gemeenskap te deel. “Hoe lyk ‘n 1924 Hubmobile, ‘n 1959 DKW of ‘n 1958 Borgward Coupe wat net soos Penny Coolen, die eerste Mej. Wêreld, se motor gelyk het?” sê Piet.

Hy voeg by dat Jan reeds in 1968 met die versameling begin het. “En soos wat dit meer en meer geword het, staan hy nou op 82 ou motors, ‘n paar ou trekkers, ‘n groot Osco vragmotor en ‘n klompie motorfietse. Daar is ‘n 1926 Studebaker en Dodge, ‘n 1972 Rolls Royce, ‘n 1959 Morris, Anglia’s en ook Austins en Alfas, om net ‘n paar te noem.”

Piet vertel dat die embleem ‘Yester Years’ met die 1924 Hubmobile naam die oudste ryding op die vloer is “Ons doen die geleentheid vir gister se jongmense tussen gister se nuwe karre,” sê hy trots.

Vir die dag kan die gemeenskap ook ‘n veiling verwag van vyf eksklusiewe bottels drank. “’n Bottel regte Franse konjac, die waarde ongeveer R2 000 en ‘n gedenkbottel Red Heart rum toe dié 150 jaar oud was. Dan is daar ook ‘n spesiale bottel Smulgates Smirnoff vodka asook Absolute vodka en Stroh rum jagterstee.”

Piet sê dat die gemeenskap die geleentheid gaan hê om unieke veldritte te onderneem in ‘n Unimog wat vroeër jare in die weermag gebruik is. Vir die hongermae sal daar ‘n verskeidenheid kosse soos pannekoek, Indiese disse, worsbroodjies, klein koekies en beskuit wees. Kom les jou dors in die buitelug kroeg. “So, gryp die geleentheid aan om die prag oudhede van naderby te beskou wanneer die hekke om 08:00 oopmaak en beleef die vervoermiddele wat ons voorouers gery het.”

Vir die publiek is die koste R50 per persoon terwyl die motorfietsryers R100 elk moet opdok wat ook ‘n kenteken en ontbyt insluit. Geld wat ingesamel word, sal die dienssentrum se geldkoffers aanvul.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button