Local NewsNews

Geliefdes staan saam vir Theyman

In Oktober 2019 is die Jongbloed-gesin se wêreld tot stilstand geruk na verskeie toetse 'n gewas op Theyman (39) se brein bevestig het.

POLOKWANE – Nou, na maande, het hy die nodige operasie ondergaan om die gewas te verwyder.

Die operasie het Donderdag plaasgevind.

Die gewas so groot soos sy vuis is gevind nadat hy vir geen rede flou geword het. Sy vrou, Simoné het met Polokwane Observer gesels en vertel die probleme het ongeveer twee jaar gelede begin.

“Nadat hy twee keer kort na mekaar flou geval het, het hy reeds verskeie toetse ondergaan en medikasie gekry. Die simptome het vererger en hy het gewig verloor en aan slaaploosheid gely.”

Theyman het in September met behandeling vir epilepsie begin en toe hy vir ‘n MR-skandering gegaan het, het die dokter die gewas opgemerk. Daar is na nog doktersbesoeke en toetse bevind die gewas druk vier breinventrikels vas. Dit veroorsaak spanning op die brein en kan tot hidrofekalie, wat water op die brein beteken, lei. Die plan was om vroeg in November ‘n stent te laat insit, maar na komplikasies wat bloeding veroorsaak het tydens die biopsie, is daar van dié plan afgesien.

“Die spesialis onder wie se sorg Theyman nou is wil eers die gewas verwyder. Dit is ‘n groot operasie op ‘n baie sensitiewe area van die brein. Hy sal ook vir eers geen chemoterapie of bestraling ontvang nie.”

Theyman is die pa van drie woelwaterseuns en het tot onlangs nog vir Noordelikes Rugbyklub uitgedraf. Sy spanmaats en vriende het vroeër die maand vir Theyman ‘n spesiale middag gereël waartydens hulle as groep saam vir hom gebid het.

“My pa help ons baie met die kinders. Ons is baie dankbaar vir hom. Ons probeer werklik om ons seuns so ver as moontlik in ‘n normale roetine te hou en hulle skool toe laat gaan en aan sport en ander aktiwiteite te laat deelneem. Hulle onderwysers ondersteun ons. Ons is in isolasie gedurende die week voor die operasie en sonder huiwer het die onderwysers ons gehelp om die seuns by ons te hou totdat ons vertrek.”

Theyman en Simoné bedank die gemeenskap en hulle familie vir hul bystand en gebede. “Ons wil ook vir ds. Sarel Venter bedank vir sy ondersteuning die laaste paar maande. Ons waardeer elkeen se boodskap, oproep en gebed. Dit dra ons in moeilike dae.”

Lees ook: Theyman Jongbloed (38) sterk tans by die huis aan

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button