Local NewsNews

Van die strate af en opsoek na huis

Wiehahn is uiteindelik na drie maande se gesukkel uit die koue uit gered, nou het hy net ‘n nuwe huis nodig.

POLOKWANE – Na drie maande se innoverende probeerslae is die weeshond, Wiehahn, uiteindelik gevang en kan hy nou gesonde kos en ‘n warm slaapplek te wagte wees.

Woefter, soos Adele Heinlein hom eers gedoop het, is vroeër hierdie jaar in die omgewing van Wiehahn- en Marinostrate in Bendor opgemerk. Heinlein het later Woefter se naam na Wiehahn verander, na aanleiding van die straat waarin hy gereeld gewaar is.

Heinlein is ‘n aktivis vir diereregte en bemoei haar daarmee om vir verlore diere nuwe huise te soek. Sy is die stigter van die Facebook blad, Lostandfoundlittlefriends, waar inwoners foto’s van diere wat verlore of gevind is, kon plaas. Ongelukkig is dié blad ‘n paar maande gelede gesluit.

“As ek vir al die diere huise kon soek en vind, insluitend die hele DBV, dan sou ek. Ongelukkig is ons slegs ‘n handjievol wat bereid is om tyd, geduld en finansies te gee om ‘n dier uit die strate te kry, en kan net soveel doen. In Wiehahn se geval het dit ons drie maande gevat net om hom te red. Dis heelwat langer as wat ons gewoonlik aan ‘n dier se vaskeer spandeer. Ons het vir hom vars kos en water gaan uitsit om hom makker te kry sodat ons hom uit die veld kan red en onder ‘n dak met warm komberse kan sit. As elke mens soveel doen en hulle diere steriliseer sal daar nie so ‘n groot probleem wees nie.”

‘n Groep vrywilligers, onder Heinlein se leiding, het aand vir aand probeer om vir Wiehahn te vang, maar hy was net te uitgeslape en het hulle keer op keer ontduik.

“Ek het gereeld vir hom kos uitgesit en ons het verskillende maniere bewerkstellig om hom te vang, soos om ‘n gat in die grond te grawe en ‘n kombers onder in te sit, of ‘n vanghok op te stel waarom hy net geloop het. Die kos is gevreet, maar ek is nie altyd seker gewees dat dit hy was wat dit geëet het nie. Dit is slegs met die Here se genade dat ons Wiehahn uiteindelik gevang kon kry. Nou is hy veilig.”

Tydens die maande wat Wiehahn in die veld gebly het, was hy ook die slagoffer van ander honde in die omgewing se geweld. Alhoewel Wiehahn veilig is, is Heinlein nou opsoek na iemand wat hom kan aanneem.

“Hy is al heelwat rustiger as wat hy voorheen was en moet nou mensgewoond raak. Sou iemand hom wil aanneem, gaan ons eers huisbesoek doen en dan is daar ‘n fooi betaalbaar wat sy sterilisasie gaan dek.”

Heinlein wil almal bedank wat die afgelope paar maande betrokke was by Wiehahn se reddingspoging. “Dankie aan almal wat elke tree saam met my gestap het en wat uit hulle pad gegaan het om Wiehahn veilig te kry.”

Vir meer inligting kan Heinlein geskakel word by 061 524 1703.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button