Bosveld SportSport

Jagters wys hulle slag op die skietbaan

Jagters was hard aan die oefen by verskeie byeenkomste wat die afgelope maand gehou is.

MOKOPANE – Hulle vaardighede in die jagveld is op die proef gestel tydens die Suid-Afrikaanse Jagters en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) se tabelle skietbyeenkoms wat onlangs gehou is. Daarna het die jagters ook aan die intertak- en streekshaelgeweerskietkompetisie deelgeneem.

Mediabeampte Suenelle Liebenberg verduidelik hierdie kompetisie word op ’n baan bestaande uit 50 kleie aangebied. Die klei-skietbaan kan as twee kompakbane van 25 kleie elk opgestel word, of as ’n enkele sportbaan bestaande uit ten minste ses skietpunte met 50 kleie.

“Punte vir kwalifisering vir toekennings op die tak, intertak en nasionale haelgeweerskietkompetisie vlak word bereken deur die aantal gebreekte kleie te deel deur die aantal kleie wat die oefening uitmaak, uitgedruk as ’n persentasie. Punte wat gebruik word met die bepaling van streeks- en nasionaleranglyste sal verwerk word gebaseer op die hoogste individuele telling vir die betrokke oefening by die betrokke tak op die betrokke dag wat dan as die maksimum beskou word. Die individuele skut se punt sal dan bereken word as ‘n persentasie van hierdie hoogste punt,” verduidelik sy.

Alle gewere, hetsy gelaai of ongelaai, moet te alle tye veilig hanteer word. “Gewere moet te alle tye oop en ongelaai gedra word (gebreek en ongelaai), of ongelaai in geweersakke of –tasse gedra word. Die sluitstukke van slotaksie, semi-outomatiese en pompaksie haelgewere moet oop wees en met die loop wat in die lug op wys, gedra word. Wanneer ’n geweer nie gebruik word nie, moet dit in ’n skietrak of ’n geweersak gestoor word. Dis ontoelaatbaar om aan ander skut se geweer te vat sonder sy/haar toestemming.”

Liebenberg voeg by die doel met dié skietoefeninge is dat jagters besef hulle het slegs een skoot om dood te skiet in die jagveld. “’n Verantwoordelike jagter moet sy beperkinge ken in terme van sy skietvaardighede in die jagveld en hierdie kennis en ervaring word net opgedoen deur gereeld te oefen, verantwoordelike optrede en toepassing van gesonde oordeel in die jagveld.”

Sy voeg by dat SAJWV, ook as SA Jagters, reeds in 1949 gevestig is en daarom maak dit die vereniging die oudste jag en wildbewaringsvereniging in Suid Afrika wat na die gemene belange van die natuurbewaarder, jagter, sportskut en vuurwapeneienaar omsien.

“SA Jagters is by die Suid-Afrikaanse Polisie Dienste geakkrediteer as ‘n jag- en sportskietvereniging en is sodoende by magte om toegewyde jagter status, toegewyde sportskut status en nou ook professionele jagter status uit te reik en te administreer.”

Met 79 takke landwyd en meer as 42 000 lede, geniet SA Jagters nasionale verteenwoordiging en het dit die grootste voetspoor van al die jag en wildbewaringsverenigings in Suid-Afrika.

Wenners:

Haelgeweer

1. Danie Grobler

2. Dean Smit

3. Michael Cooper

Senterslag

Pistool

1. Sumarie Haasbroek

2. Rucardo Kruger

3. Josef Botma

Senterslag revolwer

1. Paul Cronje

2. Sumarie Haasbroek

3. Sakkie Haasbroek

Randslag pistool

1. Paul Cronje

2. Sumarie Haasbroek

3. Gavin Meredith

Randslag revolwer

1. Petrus Smit

2. Leandri Kruger

3. Sumarie Haasbroek

Lugpistool

1. Gavin Meredith

2. Sumarie Haasbroek

3. Heila Meredith

Handwapen opeklas

1. Sakkie Haasbroek

2. Petrus Smit

3. Dean Smit 

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button