Local NewsNews

VLU-vroue gesels oor om gesond te lewe op ‘n holistiese wyse

Die lede van VLU Noord Finesse Aandtak asook van die Pietersburg Noordtak het Maandagaand bymekaargekom vir 'n praatjie oor 'n holistiese benadering tot gesond leef.

POLOKWANE – Die VLU is ‘n organisasie waar vroue saamkom en verskillende vaardighede met mekaar deel.

Dit sluit alles in van bak en brou tot hekel en brei. Lewenslange vriendskappe word gevorm en ‘n liefde vir kreatiewe skeppings kry vatplek in elke vrou se hart. Die lede van VLU Noord Finesse Aandtak asook van die Pietersburg Noordtak het Maandagaand bymekaargekom vir ‘n praatjie oor ‘n holistiese benadering tot gesond leef. Die tema vir die jaar is ‘Seisoen van Vernuwing’.

Kliniese maatskaplike werker Sonnet Seegers het die vroue toegespreek, en die gesprek begin deur te sê om gesond te wees is kosbaar.

“Wanneer ons praat van ‘n holistiese benadering beteken dit al die dimensies word in ag geneem: Jou fisiese, geestelike, emosionele, gedagtes, finansiële situasie, verhoudings en omgewing. Alles is ‘n eenheid, ‘n mens kan dit van mekaar onderskei maar nie skei nie.”

Sy verduidelik ‘n mens se liggaam manifesteer wat jou emosionele welstand is.

“As ons op ons tande kners kry ons hoofpyn, maar wat veroorsaak dat ‘n mens op jou tande kners? Dit is emosionele goed en dinge in jou senuweestelsel wat dit veroorsaak. Wat gebeur as ons skrik? Daar gaan onmiddellik alarms af in ons brein en ons liggaam skei adrenalien en kortisoon af. Dit is om ons in staat te stel om vinnig op te tree. As ons nie optree nie, bly die hormone in jou lyf en dit kan maak dat jy fisies siek raak.”

Sonnet sê hoe ons dinge ervaar word beïnvloed deur hoe ons voel. “Denke het ‘n invloed op ons emosies en ons emosies en denke beïnvloed hoe ons optree.”

Sy bied die volgende oplossing:

• Raak ontslae van die adrenalien en kortisoon. “Dit kan gedoen word deur te oefen, dans of selfs kaste reg pak.”

• Stimuleer jou Vagus-senuwee. “Wanneer hierdie spier ‘n lae tonus het, kan dit depressie of angstigheid veroorsaak. Dit is maklik om dié probleem reg te stel en maniere is om diep met jou diafragma asem te haal, te sing of te neurie of selfs te gorrel.”

• Meditasie.

• Spandeer tyd in die natuur.

“Kry jou slegte emosies en gedagtes uit jou liggaam. Dit kan jy doen deur sulke gedagtes vir die Here te gee. Dink positiewe gedagtes en wees bedag waarna jy kyk en luister.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button