Local NewsNews

Adrienne weer aan stuur van die Pietersburg Tuinbouklub

Adrienne de Wit trap al vir jare diep spore in die tuinbougemeenskap.

POLOKWANE – Sy is tans vir die derde keer tot voorsitter van die Pietersburg Tuinbouklub verkies nadat sy al vir meer as 20 jaar aan die klub behoort. Sy spandeer elke dag tyd in haar tuin en vertel dit is haar wegbreektyd. “In die tuin ontspan ek en vind ek rustigheid. Dis my veilige plek.”

Adrienne se pligte as voorsitter van die tuinbouklub behels om leiding te gee aan die 12 bestuurslede wat as gasvroue deur die jaar optree. Sy is self ook verantwoordelik vir een vergadering gedurende die jaar.

“As gevolg van Covid-19 het die klub amper doodgeloop en Eileen Schofield, wie een van die oorspronklike stigterslede is, het besluit om almal weer bymekaar te kry. Die klub het baie lede en ons is dankbaar daarvoor. Ons beoog om dalk weer ‘n Engelse klub te stig aangesien daar jare gelede ‘n Engelse klub, The Garden Club, bestaan het.”

Oor die redes om met die tuinbouklub betrokke te raak, sê Adrienne dit bied jou die geleentheid om meer te leer.

“Jy leer altyd iets nuuts en dit is goed om die inligting oor en oor te hoor, want herhaling is belangrik. By ‘n tuinbouvergadering word ‘n mens geïnspireer en kry jy leiding by ander. Dit is ook lekker om met mense te kuier wat dieselfde belangstelling as jy deel. Dit is jou mense, waar jy gemaklik en tuis voel.”

Nog ‘n voordeel is om na ander mense se uitgelegde tuine te gaan kyk. Vergaderings word dikwels in tuine regoor die stad aangebied vir klublede om ander se tuine besigtig.

Beide Adrienne se dogters, Inke Bouwer en Cirienne Janse van Rensburg, is betrokke by die klub en Adrienne is opgewonde om haar liefde van die tuin met hulle te deel. In haar vrye tyd doen Adrienne yoga en Pilates en is deel van die Rotariers. Sy spandeer graag tyd saam met haar familie, wat vyf kleinkinders insluit, by hulle huis in Haenertsburg. Hier leef sy haar liefde vir tuinbou ten volle uit.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button