Local NewsNews

[LUISTER] Gretha Garnett trotseer elke uitdaging

Voormalige Polokwane inwoner Gretha Garnett deel haar lewensreis van terugslae tot roem.

POLOKWANE – Gretha Garnett is ‘n sprankelende vrou met ‘n liefde vir die lewe en het ‘n rooskleurige toekoms.

Sy moes egter, soos meeste ander vroue van haar ouderdom, ‘n paadjie vol uitdagings stap. Gretha is vandag ‘n finalis van die Mrs 2022 Africa Continental-kompetisie en vertel sy moes baie hindernisse oorkom om te wees waar sy vandag is.

Dié motiveringspreker en suksesvolle model wou op die ouderdom van 14 reeds haar lewe neem. Sy is eers op die ouderdom van 25 met depressie gediagnoseer en onthou haar hoërskool jare as donker en hartseer tye.

Gretha verduidelik dat sy eers in 2013 besluit het om medikasie te probeer:

 

Sy het haar graad in menslikebewegingskunde by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus voltooi. “Daarna het ek my honneurs voltooi en een van my dosente het my aangeraai om in biokinetika te spesialiseer.”

Weens alles wat op daardie stadium in haar lewe aangegaan het, het sy haar passie vir biokinetika verloor en haar man het toe voorgestel dat sy ‘n breek daarvan moet neem.

“Iemand wat ek geken het, het in 2018 aan Mev. Suid-Afrika deelgeneem en ek kon nie glo hoe sy tydens daardie jaar as mens gegroei het nie. Ek het haar professionele foto’s te siene gekry en dit was daar wat ek besef het dat dit wat mens op sosiale media sien en wat in werklikheid gebeur, twee verskillende goed is. Ek het opgehou om myself met ander te vergelyk.”

Gretha het vir haarself ‘n afspraak vir ‘n professionele foto-sessie, met grimering en hare ingesluit, gemaak en onthou sy het soos ‘n supermodel gevoel.

“Ek was nog altyd ‘n doelgerigte mens en moet altyd na iets toe werk. Ek het besluit ek moet ‘n nuwe doelwit stel, iets nuuts wat my toetentaal buite my gemaksone gaan sit en my gaan druk om die beste in my uit te bring. Ek het besluit om vir Mev. Suid Afrika 2019 in te skryf. Dit was iets wat ek nog nooit gedoen het nie en wat my op baie vlakke sou toets. Dit was ‘n goeie jaar waar ek baie geleer en gegroei het. Die lekkerste deel was die gemeenskapswerk en projekte om ander te help. Dit het vir my ‘n nuwe lus vir die lewe gegee en ek geniet dit om te kan help en te kan teruggee. Daardie jaar was die eerste keer wat ek oopgemaak het en gepraat het oor my selfmoordpoging en ek het besef dat ek my storie moet gebruik om ander te help.”

Behalwe vir Mev. Suid Afrika 2019 waar Gretha in die top 10 geëindig het, het sy in 2020 ingeskryf vir Mev. Afrika en as eerste prinses geëindig. Sy het die titel as Mev. Afrika Globe verwerf en sal in Mei na die internasionale Mev Globe-kompetisie gaan waar sy haar land en kontinent sal verteenwoordig.

In 2019, tydens die Mev. Suid Afrika-kompetisie, het sy besluit om ‘n konsessie by ACEModels te koop. “Modelwerk leer jou om jouself lief te hê net soos jy is en om die mooi in jouself raak te sien. Die feit dat jy jouself in die kollig plaas en jouself basies blootstel deur voor die kamera te wees of op die verhoog te loop terwyl mense na jou kyk en jou oordeel, is iets wat wonderwerke aan jou selfvertroue doen.”

Gretha erken dis nie maklik as daar slegte dinge gebeur nie. “Ek hou daarvan om mense te help. Dit is wie ek is, maar wanneer dit buite my beheer is en ek niks daaraan kan doen nie, dan sukkel ek. Ek het ook al geleer dat alles gebeur vir ‘n rede en mens moet probeer om die positiewe uit elke situasie uit te haal en daaraan vas te hou.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
 

Related Articles

Back to top button