Local NewsNewsUpdate

Jong Heighann geopereer na hond hom byt

Die familie het die gemeenskap bedank wat spoedig geld ingesamel het vir Heighann du Toit om in ‘n privaat hospitaal behandel te word.

POLOKWANE – Binne 24 uur na die jong Heighann du Toit (5) in die gesig gebyt is deur die familie se hond, het die plaaslike gemeenskap saamgestaan en genoeg geld geskenk sodat hy in ‘n privaat hospitaal in die stad geopereer kon word.

Sy ouers, Hennie du Toit en Leigh Ann Venter het gister ‘n noodroep vir finansies gemaak sodat hulle seun in Mediclinic Limpopo opgeneem en behandel kon word.

Lees meer: Operasie wag op jong seun na familiehond hom byt

Heighann was gistermiddag (Maandag) by sy grootouers, Hennie en Delene du Toit se huis in die stad, toe die hond hom byt. Die seun is na Mediclinic Limpopo gehaas waar hy opgeneem is.

Sy gesin het dringend finansiële bydrae versoek om vir hom die nodige behandeling te kry. Teen vanoggend (Dinsdag) is daar reeds genoeg geld ingesamel vir die sjirurgie en sy verblyf in die hospitaal.

Hennie vertel die operasie het amper twee ure geduur.
“Die dokters het sy lippe herbou en die wond op sy wang behandel. Daar is nie enige permanente skade aan sy wang nie, maar die hond se tand het wel regdeur sy wang gesny. Volgens die dokters gaan hy vir nog ‘n paar opvolgbesoeke moet gaan en hulle sal later weer werk aan sy lippe moet verrig.”

Hennie verduidelik soos hy dit verstaan is bykans 90% van die onkostes reeds gedek.
“Dit gaan goed met Heighann. Hy het reeds geëet en iets gedrink. Sy gemoed is ook goed. Ons wil die gemeenskap uit ons harte uit bedank vir hulle gebede en bydrae.”

Mediclinic Limpopo se hospitaalbestuurder, MC Botha, het gister bevestig dat hy in die hospitaal opgeneem en behandel is.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button