Local NewsNews

Straatname in Dalmada maak toegang nou makliker

Inwoners van Dalmada spog na ‘n driejaarlange stryd uiteindelik met straatnaamborde in die gebied.

POLOKWANE – Straatnaamborde pryk die afgelope maand in die gebied en vergemaklik die taak om keinhoewes op te spoor vir besoekers.

“’n Groot dankie aan Jacques Joubert, ons DA raadslid wat ‘n raakvatter is en dit deurgedryf het by die munisipaliteit nadat ons op ons eie meer as drie jaar gesukkel het om naamborde te kry, asook aan die munisipaliteit wat uiteindelik gehoor gegee het aan ons versoeke om toegang tot die kleinhoewes te vergemaklik,” het een van die inwonersvereniging se lede, wat verkies om anoniem te bly, gesê.

Die lid het ook saam met die werkers van die munisipaliteit gery en strategiese plekke uitgewys waar borde benodig en geplaas moes word. Joubert sê die proses is lankal aangevoer deur die gemeenskap van Dalmada, maar die proses is vertraag deur die uitbreek van Covid-19.

Hy het as kandidaat vir wyk ses gestaan as DA wyksraadslidkandidaat, en het die aangeleentheid weereens in Augustus opgeneem met die munisipaliteit en gereeld opgevolg.

Jacques Joubert, DA raadslid vir wyk ses, se kinders Daveed, Mignon en Yonatan wys trots die nuwe naamborde in Dalmada.

Die proses is van vooraf begin en teen einde Oktober was die naamborde gereed, en die week na die plaaslike munisipale verkiesing het die munisipale werkers die naamborde kom opsit, tot groot vreugde van die inwoners.

Die inwoners sien nou met verwagting uit na straatligte vir die gebied, ten einde misdaad te voorkom en sodat besoekers die nuwe naamborde makliker kan sien in die donker.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

Related Articles

Back to top button