Local NewsNews

Ouers maak harte oop na seun (1) se skielike afsterwe

Nerize en Phillip Badenhorst gesels oor die afsterwe van hulle 21-maande oue baba Sion.

POLOKWANE – Op 3 November het Nerize en Phillip Badenhorst se lewens onherroeplik verander toe hulle jongste seun, Sion, skielik gesterf het. Sion het deur die nag siek geword, ‘n koors ontwikkel en daarna opgegooi, waaraan hy verstik het. 

Na ure se gesukkel is hy om 12:23 oorlede.

“Sion was in Babbelbekkies Kleutergroep vanaf die begin van September en het sy maatjies en juffrou vreeslik geniet. Sy eerste konsert sou op 25 November gewees het,” vertel Nerize.

Sion was vreeslik lief vir ‘n ‘moo’, soos hy beeste genoem het, en sou dikwels met ‘n bottel ‘boo’ (soos hy melk genoem het) en ‘n tuitbeker onder die arm in die sitkamer inloop.

“Sion was lief vir eet, veral iemand anders se kos, behalwe melktert – hy het hom dood gegril vir melktert.” Nerize vertel hulle het ‘n spesiale plek in die huis met Sion se as, sy foto’s en sy speelding Apie.

Hulle is gelukkig om nog nie teveel negatiewe woorde te hoor van mense nie, maar ‘n “hoe gaan dit?” is vir hulle moeilik. “Hoe dink mense gaan dit? Maar, nes ons nie weet hoe om dinge te hanteer nie, weet die mense om ons ook nie hoe om dinge saam met ons te hanteer nie. Ons het die afgelope tyd geleer hoe baie familie en vriende beteken. Ek kan nie indink hoe ons hierdeur sal kom sonder ons mense nie.”

Op die vraag of hulle kwaad is, skud Nerize haar kop en sê: “Nee ons is verseker seer en hartseer. Ons het berusting met die feit dat ons kind dood is. Om kwaad te wees vir enige iemand gaan hom nie terugbring nie, ons is nie kwaad vir enige iemand of vir God nie. Op 3 November het ek gebid en die Here gevra om net vir Sion vas te hou, ongeag die uitkoms, en Hy het. God het nie ons seuntjie doodgemaak nie; hy het verstik na hy opgegooi het en dit het sy dood veroorsaak. God het ons seuntjie styf vasgehou en huis toe gevat. Ons sal elke dag na hom verlang en die seer verdra, want ons het hom diep lief en dit is baie seer om aan te gaan sonder sy lyfie hier saam ons. Sion sal ewig voortleef in wie ons is.”

Lees meer oor dié noodlottige dag se gebeure in vandeesweek se Polokwane Review.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button