Local NewsNews

Op papier was hy dood, Louis deel sy Covid-19 stryd

Louis Opperman (19) was in Julie met Covid-19 in die hospitaal opgeneem en na 'n moeilik stryd was hy huistoe na twee en 'n half maande.

POLOKWANE – Willie Opperman het op 25 Augustus die beste verjaarsdaggeskenk waarvoor enige pa kan vra ontvang.

Sy seun, Louis (19), het vir die eerste keer in ‘n maand op sy ouers se stemme en aanraking gereageer nadat hy onder sedasie geplaas was. Louis was op 26 Julie met Covid-19 in die hospitaal opgeneem en sy toestand het so versleg dat hy 9 Augustus per helikopter na die Midstream Mediclinic geneem was.

“Op 10 Augustus het dr. Emmanuel Taban vir Louis met septisemie en salmonellavergiftiging gediagnoseer en twee of drie dae daarna met breinvliesontsteking. Sy linker long het vier keer platgeval en het steeds gate wat nie wil genees nie,” vertel Willie.

Louis het ongeveer vyf pinte bloed ontvang en was bykans drie keer dood terwyl hy in die intensiewesorgeenheid was. Hy het baie met sy hart gesukkel en daar is steeds ‘n bloedklont in sy long.

“Ons kon vir die eerste twee weke glad nie by Louis wees nie, en het in die tuin by sy venster gestaan. Die verpleegpersoneel was wonderlik en ons kon vir hom stemboodskappe stuur wat hulle vir hom gespeel het. Ek het ook Hillsong musiek afgelaai om vir hom te speel.”

Alhoewel Louis onder sedasie was en nie kon reageer nie, kon hy glo alles hoor wat om hom aangegaan het. Willie vertel Louis was op papier dood en sy infeksietelling was op ‘n stadium 500, waar dit minder as vyf behoort te wees. Volgens Willie rook of drink Louis nie, maar hy was oorgewig en dit het teen hom getel. Hy moes vir 60 ure aaneen op sy maag lê voor hy weer vir 24 uur op sy rug gedraai was.

Louis was op 1 September heeltemal wakker met ‘n tragea pyp om sy stembande te beskerm en ventilasie te verbeter. Hy het ses bronchoscopies in die hospitaal ondergaan en het ook ‘n voedingsbuis in sy maag gehad. Op ‘n stadium was Louis op 12 druppe en vyf tipes antibiotika geplaas.

“Hy het ‘n dreineringspyp in sy long gehad en my een oggend tydens ‘n video-oproep die gat in sy sy gewys waar die pyp uitgehaal is. Hy het gesê Jesus het 03:00 by hom kom staan, vir hom gesê die pyp is nie meer nodig nie, en die pyp uitgetrek. Die susters sê hy het self die pyp uitgetrek. Die dokters was verbaas aangesien dit geblyk het asof die pyp uitgetrek was en daar ‘n onsigbare prop ingesit is om komplikasies te verhoed.”

Louis se bloed was elke vier ure getrek en sy drup was gereeld geskuif, selfs na sy voete. Sy behandeling was elke dag deur ‘n span van tot agt dokters aangepas.

Vir Louis was die pad moeilik en met tye wou hy net doodgaan, maar psigiater dr. Melinda Lombard het hom besoek en vir hom pille voorgeskryf. Hy was op 28 September ontslaan en vir twee weke na Care@Midstream geneem vir fisio- en arbeidsterapie. Hy kon uiteindelik op 13 Oktober huis toe gaan.

“My spiere is nog seer, maar my longe voel reg, alhoewel dit nog nie is nie. Ek moet nog heeltyd op suurstof wees, maar sal dit binnekort kan los. Ek gaan nog fisioterapie moet ontvang en moontlik nog sjirurgie, maar ek moet eers nog toetse doen. As gevolg van al die medikasie val my hare uit en ek het meer as 30kg verloor in die tyd.”

Louis is ‘n getroue gholfspeler wie ook by die Polokwane Gholfklub werk en wil so gou as moontlik terugkeer gholfbaan toe. Die familie bedank almal vir elke gebed, boodskap en omgee.

“Dit is moeilik om almal by die naam te noem, maar ons wil graag vir Hettie du Bruyn wie gehelp het met die helikopter, aook dr. Emmanuel Taban en dr. Niel Struwig uitsonder. Die ekstra moeite wat hulle vir Louis gedoen het, het sy lewe gered. Hierdie was ‘n baie slegte tyd en ons wens dit vir niemand toe nie. Ek het eers gedink Covid-19 is ‘n foefie, maar nou weet ek dit is nie. Soos dr. Taban gesê het: ‘God gives everyone an equal chance, it is what you make of it’.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

Related Articles

Back to top button