Nóg ‘n liggaam aan die buitewyke van die stad gevind

Die ontdekking kan moontlik deel wees van 'n reeks soortgelyke moorde.

POLOKWANE – Sondag (3 Oktober) se gruwelike ontdekking van ‘n vrou se ontbinde lyk, is kommerwekkend aangesien dit moontlik deel kan wees van die reeks liggame wat die afgelope weke gevind is.

Die lyk is op ‘n plaas langs die Matlala-pad aan die buitewyke van die stad gevind.

‘n Anonieme bron wat eerste op die toneel was, sê een van sy werkers het vee in die veld opgepas toe hy die lyk gevind het.

“Dit was omstreeks 16:30 toe hy die beeste gaan haal en op die gruwelike toneel afgekom het. ‘n Vrou se ontbinde liggaam was ontdek, en dit blyk of dit al ‘n rukkie daar was – miskien selfs twee weke. Hy het my na die toneel ontbied en die polisie is in kennis gestel en het baie vinnig reageer. ”

Die man sê van wat hy gesien het, is die vrou se oë verwyder en haar hande met ‘n dun draad agter haar rug vasgemaak. Sy was ook met ‘n stuk lap gestik.

Hy sê dat die polisie in Westenburg die toneel gefynkam het en dat ‘n doodsondersoek geopen is.

“Ek dink nie dat sy hier vermoor is nie, want ons het ‘n bietjie rondgekyk en daar was geen tekens van ‘n worsteling in die omgewing nie. Ek neem aan dat sy hier gestort is nadat sy vermoor is. Ons het ook geen verdagte aktiwiteite opgemerk nie, maar dit is die derde voorval in sy soort hier die afgelope maand. Al die lyke was gevind met hulle hande agter hulle rûe vasgebind en hulle monde met ‘n stuk lap geprop. ”

Die Westenburg stasiebevelvoerder, Kol. Maimele Pilusa, het die voorval bevestig en sê die stasie ondersoek die moord.

“Die ontbinde lyk van ‘n vrou, wie se ouderdom as gevolg van die ontbinding nie bepaal kan word nie, is Sondag op een van die plase langs die Matlala-pad gevind. Die oorledene het ‘n wit hemp, ‘n geel bra en ‘n wit romp aangehad, maar geen skoene nie. “

Die polisie doen ‘n beroep op almal wat ‘n familielid vermis of iemand met inligting oor die voorval, om die stasie te kontak.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
 

Related Articles

Back to top button