Local NewsNews

Gustaf sê ‘dis lekker in die weermag’

Gustaf Louw (24) gaan eersdaags na die Demokratiese Republiek van die Kongo toe as soldaat.

POLOKWANE – Gustaf Louw (24) leef tans die lirieke van Leon Schuster en Gé Korsten se Ag Dis Lekker Inni Army uit.

Die voormalige Hoër Tegniese Skool Tom Naudé leerder het in 2016 by die Suid-Afrikaanse Weermag aangesluit en vlieg binnekort na die Demokratiese Republiek van die Kongo waar hy sy land gaan verteenwoordig.

Review het met hom gesels oor die voordele van weermag opleiding, raad aan ander jongmense en geleenthede wat die weermag jou bied.

“Die weermag het my ‘n meer gedissiplineerde mens gemaak en het my kennis verbreed. Ek toer deur die land en sien plekke wat ek nie gedink het ek ooit sal sien nie. Ek het baie geleer oor die verskillende kulture van ons land. Ek ervaar hoe mense sukkel om ‘n lewe te maak, en dit het my as persoon baie nederig gemaak teenoor ander asook baie dankbaar vir wat ek het. Die weermag het my as persoon ‘n beter mens gemaak. Ek het geleenthede wat ander mense nie het nie en ervarings waarvan baie mense net kan droom.”

Wanneer jy by die weermag aansluit kan jy besluit in watter korps jy wil ingaan. Dié sluit in die infanterie-, lugmag-, vloot-, pantser-, artillerie-, inligting- of mediese-afdelings. As lid van die weermag kan jy verder studeer by die Militêre Akademie. 

“Die weermag het ‘n klomp kursusse wat jy kan doen om jou kennis en vaardighede te verbeter sodat jy ‘n spesialis in ‘n spesifieke rigting kan word. Hierdie rigtings sluit in valskermsoldaat, spesmagte, lugaanval, bom verwydering, honde hantering, opsporing, aanval duiker en skerpskutter om maar ‘n paar te noem. Daar is ‘n klomp dinge om te verken in die weermag wat jou kan bevoordeel in die toekoms.”

Gustaf se raad aan ander wat in sy voetspore wil volg is om te weet die pad vorentoe gaan nie maklik wees nie. “Jy gaan getoets word soos nog nooit vantevore nie. Nie net fisies nie, maar ook geestelik. Jou mentaliteit gaan die ergste getoets word. Jy gaan jou kultuurverskille eenkant moet sit, want as jy dit nie gaan doen nie, gaan jy nie ver in die weermag kom nie. Alles hier gaan oor spanwerk. Ons dra mekaar deur die harde tye en om vriende te maak met mense van verskillende kulture gaan maak dat julle mekaar beter verstaan. As jy avontuurlustig is en jy hou van adrenalien dan is hierdie definitief ‘n goeie plek om te wees.”

Soldate kan ook aan sportsoorte soos rugby, krieket, sokker, netbal, vlugbal en skiet deelneem.

“Daar is verskeie mense wat voel jong mense gooi hulle lewens weg deur by die weermag aan te sluit en raai hulle daarteen aan. Ek stry hiermee. Ek dink hulle vat ‘n geleentheid weg van ons jong mense af. Ek is nie een dag spyt dat ek by die weermag aangesluit het nie. Inteendeel, dit is die beste reis wat ek nog in my lewe gehad het. Hier het ek van die beste herinneringe en vriende gemaak wat enige persoon voor kon vra.”

Laastens vertel Gustaf dat alhoewel hy nie dink verpligte weermag opleiding nodig is nie, is dit tog ‘n goeie besluit om jong mense dissipline te leer en van hulle beter mense te maak. “Hier leer ons meer van mekaar en ons kulture en dit kan ons nader aan mekaar bring. Op die einde van die dag het almal hulle eie planne vir die toekoms en ek glo ons moet nie daardie reg van enigiemand af wegvat nie.”

Lees meer oor Gustaf in vandeesweek se Polokwane Review.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

Related Articles

Back to top button