Local NewsNews

Tekkies en Toks: ‘Meer as net skoene’

Vlok Cilliers, deur sy skopakademie Vlokskop, en Springbok en Blou Bul-speler, Morné Steyn, het onlangs saam met Helpende Hand hul Tekkies & Toks-projek van stapel gestuur.

Tekkies & Toks, ‘n armoedeprojek, poog om vanjaar met die publiek se hulp minstens 1 000 behoeftige hoërskoolleerlinge landwyd met noodsaaklike items toe te rus, om hul sport op ’n gelyke vlak met hul spanmaats te kan beoefen.

“Kinders lê my na aan die hart en hulle vra nie baie nie. As ons dit nie ons verantwoordelikheid maak om na hulle te kyk en ’n beter toekoms te gee nie, wie anders gaan dit dan doen?” vra Cilliers.

Hy noem dat hy daarom, deur sy VlokSkop Stigting, saam met Steyn besluit het om hande met Helpende Hand te vat.

“Ons wil met hierdie projek een reuse verskil maak in ons land, ons omgewing, binne in ons gemeenskap en kinders sodoende help, opvoed en oplei. Ons gaan nie net skoene aan hul voete sit nie, maar op ander vlakke positiewe bydraes maak tot ons kinders. Ons wil kyk om kinders op ’n geestelike vlak te help, emosioneel en natuurlik, liggaamlik. Hierdie aspekte gaan almal hand-aan-hand,” verduidelik hy in ‘n verklaring.

Steyn sê hierdie is ’n goeie inisiatief en dat dit lekker is om te weet hy kan iets teruggee.

“Baie van ons aanvaar dit as vanselfsprekend om elke dag ’n paar skoene aan te trek en met tokse op die rugbyveld op te draf – en dan is daar eintlik so baie mense wat dit net nie kan bekostig nie. Hiermee wil ons ’n verskil maak, en ons hoop ons kan die publiek se harte aanraak om ons te help,” voeg Steyn by.

Margole Riekert, die projekorganiseerder, vertel Helpende Hand besef die belangrikheid van sport vir kinders op soveel vlakke van hul ontwikkeling.

“Finansies moet nooit die rede wees dat kinders nie aan sport deelneem nie,” sê sy.

Mense wat die projek wil ondersteun, kan www.tekkiesentoks.co.za besoek om uit te vind hoe om ’n verskil te maak.

Related Articles

Back to top button