Local NewsNews

Skole oop, maar talle wag steeds om geplaas te word

Talle ouers is tans buite die Onderwysdepartement se kantoor, op soek na antwoorde.

Vandag is vir die meeste leerders die eerste dag van die 2021 akademiese jaar, maar talle kinders sal steeds nie vandag by ‘n skool uitkom nie.

Die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, het gister in ‘n persverklaring genoem dat ‘n aanvraag na skoleplasings baie hoog is en dat daar etlike struikelblokke in elke provinsie is.

“Provinsiaal is daar goeie vordering gemaak, maar daar is steeds 16 117 leerders wat wag vir plasing. Die Raad van Onderwys Ministers het eergister vergader en die kwessie was as ‘n kritiese probleem geïdentifiseer. Die sisteem kan nie bekostig dat enige leerder agtergelaat word nie en daar is besluit dat alle provinsies dringend moet werk om leerders teen volgende week te plaas,” het sy verduidelik.

Die raad het ouers en voogde gevra om saam met amptenare op ‘n distriksvlak saam te werk om die proses te versnel.

Die Limpopo Onderwysdepartement se Woordvoerder, Tidimalo Chuene, het aan Observer vertel dat teen verlede week, daar 2 430 gr.1-leerders en 3 266 gr.8-leerders in die provinsie was wat nog nie geplaas is nie.

Chuene noem dat 117 343 gr.1-leerders en 113 498 gr.8-leerders verlede week reeds geplaas was.

“Een van die redes vir die oponthoud is dat meer aansoeke inkom as wat daar beskikbare plek is, veral in areas soos Polokwane, Mokopane, Tzaneen, Makhado, Phalaborwa, Giyani, Ellisras, Groblersdal en Musina, waar daar ‘n groot aanvraag is,” verduidelik sy.

‘n Ander uitdaging wat sy noem, is die verhoogde hoeveelheid mense wat dorpsgebiede toe trek op soek na werk.

“‘n Proses is in Desember begin om skole te identifiseer wat nog plek gehad het om uitstaande aansoeke te verwerk,” het sy bygevoeg.

Volgens Chuene kan hulle nog nie vasstel wanneer die leerders geplaas sal wees nie.

“Ons is bekommerd oor die aantal leerders wat nog nie skoolgaan nie. Ons is vasberade om die probleem so gou as moontlik op te los, soos deur die LUR en minister versoek.”

Talle ouers is tans buite die Onderwysdepartement se kantoor in Biccardstraat op soek na antwoorde.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button