Jannie en Dawie ’n wenspan oor ses dekades

Polokwane se eie Dawid en Jonathan, oftewel Dawie Botes en Jannie van Waveren het verlede Donderdag tydens die viering van Jannie se 78ste verjaardag teruggekyk oor ‘n vriendskap van meer as 60 jaar waartydens hul sakeonderneming, Bolivia Estate van krag tot krag gegaan het. Hul paadjies het as skoolseuns by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé …

Polokwane se eie Dawid en Jonathan, oftewel Dawie Botes en Jannie van Waveren het verlede Donderdag tydens die viering van Jannie se 78ste verjaardag teruggekyk oor ‘n vriendskap van meer as 60 jaar waartydens hul sakeonderneming, Bolivia Estate van krag tot krag gegaan het.
Hul paadjies het as skoolseuns by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé gekruis en dit het ontwikkel tot ‘n hegte vriendskap wat ook tydens hul weermagdae as dienspligtiges voortgesit is. Staaltjies oor hul wedervaringe kan hulle vir ure aan die gesels hou.
Botes het vir ‘n tydperk in Johannesburg en Pretoria in die banksektor gewerk en was betrokke by die ondersoek na die inkorporasie van banke wat later in die bankreus Absa ontwikkel het. Die twee vriende het steeds in verbinding gebly.
Van Waveren het gou as ‘Jan Alpha’ bekend geword nadat hy Alpha Kafee in Ladanna geopen het en dit later tot Alpha Superette gegroei en met die groter supermarkte in die stad meegeding het. Hy stig later Alpha Sand & Klip en pak sy eerste vervoerkontrakte vir steenkool vanaf Witbank na die destydse Universiteit van die Noorde aan. Dit was Botes wat die advertensie vir die werk raakgelees het en Alpha Sand & Klip was in besigheid met twee langafstandtrokke.
Botes het heeltyds na die destydse Pietersburg teruggekeer en die twee vriende het begin om varkhokke vir die groeiende mark te bou. “Ons het soggens 03:00 opgestaan, varkhokke gebou tot 06:00 en dan na ons werk gehaas. Daar was nie geld wat rondgelê het nie, ons moes alles self doen,” vertel hy.
Die jaar 1997 het ‘n nuwe dimensie in hul vennootskap gebring toe hulle Bolivia Lodge op ‘n veiling gekoop het. Dié klein verblyfplek met ‘n klein saaltjie, 12 chalets en ‘n oop kombuis is opgegra­deer en staan nou bekend as Bolivia Estate met 106 kamers en 16 lokale wat ten volle toegerus is vir funksies en konferensies. Die landgoed se kombuis beskik oor 11 kokke en ‘n totale personeelkomponent van 108 wat aangevul word met studente wanneer die behoefte ontstaan.
“Die 16 lokale kan gesamentlik 3 200 persone per dag huisves en is sekerlik een van die grootste in Limpopo en hier word plaaslike, provinsiale, nasionale en selfs internasionale kongresse aangebied,” vertel Dawie trots.
Van Waveren is gedurende 1999 deur die Pietersburg Sakekamer as die stad se Besigheidspersoonlikheid van die Jaar aangewys en dieselfde eer het sy vennoot in 2010 te beurt geval.
Van Waveren het ook gedurende 1999 Sanlam en Business Partners se Entrepreneur van die Jaar-toekenning ontvang. Bolivia Estate is in die stad gewortel en streef daarna om op ‘n deurlopende basis bystand aan plaaslike liefdadigheidsorganisasies te lewer.
Botes is baie trots op die groot hoeveelheid inheemse bome wat op die perseel aangeplant is en wys graag die reuse kremetartboom – volgens hom die grootste in Polokwane – wat ‘n landmerk op die landgoed geword het.
Dié twee vriende is tans ver gevorder met die stigting van ‘n Klub 50+ vir persone wat meer as 50 jaar gelede inwoners van Pietersburg was.
Volgens Botes is wedersydse respek vir mekaar en die waardering vir elk­een se besondere gawes, die geheim van hul vriendskap en sukses.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button