NewsSchools

Pieties tops, Tommies ontvang prestasiebeker tydens interhoër

Twee plaaslike skole, Hoërskool Pietersburg (PHS) en Hoër Tegniese Skool Tom Naudé het tydens Vrydag se interhoër die stad se naam hoog gehou nadat PHS nie net as algehele wenners aangewys is nie, maar ook met verskeie ander trofeë weggestap het terwyl Tommies vanjaar met die prestasiebeker beloon is. Pieties en Tommies het teen hoërskole …

Twee plaaslike skole, Hoërskool Pietersburg (PHS) en Hoër Tegniese Skool Tom Naudé het tydens Vrydag se interhoër die stad se naam hoog gehou nadat PHS nie net as algehele wenners aangewys is nie, maar ook met verskeie ander trofeë weggestap het terwyl Tommies vanjaar met die prestasiebeker beloon is.
Pieties en Tommies het teen hoërskole Northern Academy, Eric Louw, Frans du Toit, Merensky en die gasheerskool van Louis Trichardt meegeding.
Pieties stap nie net weg as algehele wenners nie, maar hul seun- en meisiespan word ook as wenners van die dag aangewys. Verder verwerf PHS die pryse vir beste spronge, werpe, naellope, middel- en langafstande en aflosse.
Individuele pryse is ook aan verskeie Pieties toegeken: Niel Smit (junior Victor Ludorum), Cor Muller (senior Victor Ludorum), Chinique Brown (senior Victrix Ludorum en beste senior meisiesbaanatleet), Rinelda van der Linde (beste senior meisiesveldatleet) en Tania Roslee (beste junior meisiebaanatleet).
Op die pawiljoen het Pieties ook gewys waartoe hulle in staat is nadat hulle die trofee vir beste dirigente ontvang het sowel as ‘n tweede plek in die afdeling vir die geesbeker.
Tommies het vanjaar met die prestasiebeker weggestap. Die toekenning word bepaal wanneer die skool se hoeveelheid atlete met hul prestasies vergelyk word. PHS was tweede en Louis Trichardt derde.
Tommies het ‘n totaal van 63 medaljes waarvan 18 goud, 22 silwer en 23 brons, ingepalm.
Met PHS as wenners vir die dag, het atlete die algehele tweede plek vir Merensky gelaat en derde plek vir Louis Trichardt.
Triegies het voorwaar hul beste voetjie voorgesit met die aanbieding van die interhoër. Goed georganiseerd, professioneel en bederf is woorde wat deur beamptes gebruik is om die dag te beskryf.
Louis Trichardt-hoof, Theo Muller het gesê dit is ‘n groot voorreg om atlete, personeel, ouers en beamptes te verwelkom. “Ons skool se verwagtinge is oortref met die aanbieding van die byeenkoms en ‘n genotvolle dag met gesonde kompetisie, wedywering en prestasies het ‘n realiteit geword,” het Muller gesê.
Volgende jaar se interhoër word deur PHS in Polokwane aangebied.

Storie en foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Dave Mokgawa, o.15, van Tommies wen die 400 m. Hy behaal ook goud in die 200 m.
Joggie Geduld, o.17, van Tommies verwerf tweede plek in die 400 m.
Minette Caroto en Sarisa van der Goot, o.17, van PHS gee die pas aan in die 3 000 m.
Henry van Wyk, o.16, van PHS konsentreer en fokus voor die 400 m.
Tommies se Christiaan Badenhorst, o.15, in aksie met driesprong.
Die o.19-PHS atleet, Moosa Ndou bly voor Tommies se langasem, Jaco Naudé.
Cherise Swartz, o.16, van Tommies sit al haar krag in tydens diskus.
PHS-atleet Vincent Luckhoff, o.14, steek ‘n Triegie verby.
Tommies se Sunette Viljoen, o.16, slinger die diskus. Sy behaal ‘n eerste plek in gewigstoot en ‘n tweede plek in diskus en hoogspring.
PHS se Cecile Venter, o.14, strek voor haar uit om afstand in verspring te kry.
Tommies se Ruan Joubert, o.19, in aksie met diskus.
Langasem Mohalala Tshitangoni, o.17, van Tommies byt vas tydens die 1 500 m.
Michael Stopforth, o.19, volhard tot die einde in die 1 500 m en behaal goud vir PHS.
Juandré Slippers van PHS se o.17-afdeling vlieg oor die hoogspringlat.
JC Logtenberg, o.17, van Tommies seil oor die dwarslat.
Monique Schlesinger, o.16, van PHS in aksie tydens diskus.
Wiehan Logtenberg, o.16, van Tommies tydens gewigstoot.
Pieties se Carmi van den Heever, o.16, tydens die hekkies.
Die o.15-atleet van Tommies, Phosa Kenielwe gee sy beste.
Pieties se o.14-atleet, Minette Burger kry hoogte in verspring.
Tommies se Marnus de Klerk, o.15, laat waai met gewigstoot.
Jurinda van Schalkwyk, o.16, laat waai met diskus.
Die o.15-atleet van PHS, Jan-Keyser Albertyn maak gereed vir sy poging in gewigstoot.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button