EntertainmentLifestyle

Fietsryers gaan vir tassieprojek trap

BINNEKORT gaan van die dorp se kranige fietsryers die Momentum 94.7 fietswedren aanpak om geld in te samel vir Helpende Hand se Skooltassieprojek.

MOKOPANE – BINNEKORT gaan van die dorp se kranige fietsryers die Momentum 94.7 fietswedren aanpak om geld in te samel vir Helpende Hand se Skooltassieprojek.

Valerie van der Walt, ‘n lid van Helpende Hand se Mokopane-tak, sal saam met 20 ander vrywilligers dié gewilde fietswedren op 16 November aanpak om so-doende fondse vir Helpende Hand se Skooltassieprojek in te samel en bewusmaking rondom die projek te skep.

“Valerie is ‘n kranige fietsryer en het die idee gekry om haar stokperdjie ten bate van Helpende Hand aan te wend,” sê Marianthie van der Walt, streekorganiseerder van Helpende Hand in Limpopo.

“Sy en haar span gaan 94,7km ver sweet met die wete dat hulle vir behoeftige gr. 1-leerders kans gee om hul skoolloopbaan op gelyke voet met klasmaats te begin.”

Deur die Skooltassieprojek versprei Helpende Hand elke jaar duisende skooltassies propvol skryfbehoeftes aan behoeftige gr. 1 leerders op hul eerste skooldag.

Sedert die ontstaan van die projek is 21 000 skooltassies versprei en Helpende Hand wil probeer om hierdie jaar meer tassies as ooit tevore landwyd uit te deel.

“Dit is vir die Helpende Hand Mokopane-tak belangrik om nie net op plaaslike projekte te fokus nie, maar ook by te dra tot die groter visie van Helpende Hand,” sê Marianthie.

“Valerie en haar span verdien klaar ‘n reuse klop op die skouer vir hul bereidwilligheid om hierdie uitdaging aan te pak.

“Ons wens hulle alle sterkte toe en weet dat hulle hul uitstekend van hul taak gaan kwyt.”

Diegene wat die projek wil steun, kan die woord TASSIE na 38969 SMS om sodoende R10 tot die projek by te dra.

Enige inwoners van Mokopane wat ‘n skooltassie teen R200 wil skenk, kan die bankbesonderhede op Helpende Hand se webtuiste kry by www.helpendehand.co.za.

hand_610986502

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button