Zanis-gimnaste maak geskiedenis

Goeie prestasies deur gimnaste en afrigters is nie ‘n nuwe verskynsel by Zanis Gymnastics Academy nie, maar dié klub het weereens rede om trots te wees nadat hulle vanjaar geskiedenis gemaak het deur 100% tydens die Limpopokampioenskappe te behaal. Dit beteken dat elke gimnas wat vanjaar vir die Limpopokampioenskappe in ritmies, artisties of trampolien ingeskryf …

Goeie prestasies deur gimnaste en afrigters is nie ‘n nuwe verskynsel by Zanis Gymnastics Academy nie, maar dié klub het weereens rede om trots te wees nadat hulle vanjaar geskiedenis gemaak het deur 100% tydens die Limpopokampioenskappe te behaal.
Dit beteken dat elke gimnas wat vanjaar vir die Limpopokampioenskappe in ritmies, artisties of trampolien ingeskryf het, provinsiale kleure verwerf het. Zanis spog met ‘n totaal van 115 medaljes wat deur die provinsiale gimnaste ingepalm is.
Die gimnaste sal van 24 tot 29 September die provinsie tydens die nasionale Gym Games in Durban en Kaapstad onderskeidelik verteenwoordig.
“Zanis bestaan reeds 28 jaar en dis die eerste keer dat al ons artisties-, ritmies- en trampoliengimnaste gekwalifiseer het om aan Gym Games deel te neem. Ritmies is altyd die moeilikste om span te kry, aangesien daar slegs vier gimnaste per ouderdom vir die Gym Games toegelaat word. Vanjaar het al ons ritmiese gimnaste span gekry,” sê ‘n trotse mede-eienaar en hoofafrigter, Zani Prinsloo.
Wanneer ‘n mens haar vra waarin lê die klub se sukses sê sy: “Genade en seën van ons Hemelse Vader, harde werk, deursettingsvermoë en toegewydheid van ‘n ongelooflike passievolle span afrigters.”
Zanis se personeel is onder leiding van Prinsloo asook mede-eienaar, Annemarie du Plessis, twee hoogsgekwalifiseerde afrigters, wat op hoogte bly met die nuutste verwikkelinge in gimnastiekkringe. Afrigters woon gereeld kursusse, werkswinkels en kompetisies by om in pas met wêreldgehalte gimnastiek te bly, volgens Prinsloo.
Benewens Polokwane het Zanis ook takke in Tzaneen, Vivo en Hoedspruit is en ‘n totaal van tien afrigters wat elk op dieselfde oefenprogram wat deur Prinsloo ontwerp is, funksioneer.
Prinsloo spog self met ‘n verskeidenheid toekennings en haar passie en liefde vir die sport inspireer ook haar afrigters. Sy is reeds 14 keer as beste afrigter in Suid-Afrika vir meisies artisties, seuns artisties en ritmiese gimnastiek aangewys.
Du Plessis is ook al benoem as beste seuns­afrigter in die land en is ook een van die hoogste gekwalifiseerde mansbeoordelaars in Limpopo.
Afrigter Cecil van den Bergh bemoei hom met afrigting van die seuns en trampoliengimnaste terwyl meisieafrigter, Tanya Bouwman en ritmiese breier Lesley Bonne ook deel van die gesoute span uitmaak. Die drie afrigters spog self met die onderskeiding om as afrigters vir die onderskeie Limpopospanne gekies te word op grond van hul Federation Internationale Gymnaestique (FIG) kwalifikasies.
Zanis Gymnastics Academy het sedert hul bestaan 22 gimnaste vir die nasionale South African Gymnastics Federation (SAGF)-span opgelewer wat teen Namibië, Zimbabwe, Mosambiek en Mauritius deelneem.
Prinsloo, Du Plessis en Bouwman het ook al as afrigters van dié nasionale spanne opgetree.

Storie/foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button