Local NewsNews

Vrou (61) weer aanvaller af, gewaar hom ‘n week later op straat

‘n Inwoner van die stad wat aan die einde van Julie in haar huis in Jorissenstraat deur ‘n verdagte aangeval is, sukkel steeds om die voorval te verwerk en vrees vir die dag wat haar aanvaller moontlik op borgtog vrygelaat kan word en hy uit wraak sal terugkeer. Die 61-jarige vrou, wat verkies om anoniem …

‘n Inwoner van die stad wat aan die einde van Julie in haar huis in Jorissenstraat deur ‘n verdagte aangeval is, sukkel steeds om die voorval te verwerk en vrees vir die dag wat haar aanvaller moontlik op borgtog vrygelaat kan word en hy uit wraak sal terugkeer.
Die 61-jarige vrou, wat verkies om anoniem te bly, vertel hoe sy op 23 Julie omstreeks 11:45 in haar huis oorval is.
“Ek het skaars by die huis gekom toe ek die hekklokkie hoor lui en by die voordeur uitloer. Net die persoon se onderlyf was sigbaar omdat daar plante in die pad is. Ek het my selfoon gaan haal om te sien of iemand my nie dalk geskakel het en wil inkom nie,” vertel sy.
Die persoon het na die kleinhekkie geloop waarna die vrou se hond baie onrustig geraak het. Sy wou die hond in die huis laat inkom, maar dié wou niks weet nie. “Ek het na die swembad gestap waar die hond geblaf het en toe ek aan die hekkie vat, ‘n man in die tuin gewaar. Ek het teruggehardloop huis toe en wou die veiligheidshek toemaak, maar hy het dit oopforseer,” vertel sy.
Die aanvaller het haar in die gang gegryp en sy het probeer om in die rigting van die sitkamer te beweeg. Hy het waarskynlik haar plan gesien om by die noodknoppie uit te kom en haar gang-af na die slaapkamer gedwing.
“Terwyl hy my in ‘n wurggreep gehad het, het hy pepersproei in sy ander hand gehad. Ek kan nie die angs beskryf nie en het besef ek moet myself verdedig. Ek het afgebuk grond toe en hom aan sy privaatdele gegryp. Ek het vasgehou vir al wat dit werd was terwyl hy omtrent die hele bottel pepersproei op my leeggemaak het.”
Sy vertel hoe hy losgeruk en by die deur uitgehardloop het nadat hy eers in die deur geval en sy het hom agternagesit het.
‘n Week na die voorval het die slagoffer in die straat gery en dieselfde man ongeveer 200 m van haar huis af gewaar.
“Ek het hom aan sy stap herken en dadelik by ‘n man om hulp gestop. Hy het die verdagte agternagesit tot naby Laerskool Pietersburg-Oos waar ‘n insleepdiensoperateur hand bygesit het om hom aan te keer,” vertel sy.
Die polisie is ontbied en die verdagte is gearresteer. Op 7 Augustus het sy hom tydens ‘n uitkenningsparade uitgewys.
Hy het Donderdag in die plaaslike landdroshof verskyn. Sy regverteenwoordiger het aangedui dat sy kliënt, Jack Rathepye, nie met sy borgaansoek sal voortgaan nie omdat daar ‘n saak teen hom hangend is.
Rathepye was na bewering op borgtog vry toe hy by die onlangse aanval betrokke was. Hy word glo met verskeie voorvalle in die stad verbind, maar die polisie kon dit nie teen druktyd bevestig nie.
Die slagoffer sê die voorval het haar lewenswyse totaal verander.
“Ek is bang om soms by die huis te wees en sorg dat alles gesluit is. Ek wil nie eers in die tuin stap nie en leef baie versigtiger. Dit was net uit genade van die Here dat ek nie seergekry het nie.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button