Local NewsNews

Geliefde oud-onnie, sakeman Nic Jordaan (67) sterf

Nic Jordaan (67) word deur vriende en familie beskryf as iemand met ‘n sagte hart en wat ten koste van homself sou uitreik om ander mense te help. Jordaan is Vrydag dood toe hy met sy motorfiets in ‘n botsing op die hoek van Vermikuliet- en Woodbushstraat betrokke was. Jordaan is in Vereeniging gebore en …

Nic Jordaan (67) word deur vriende en familie beskryf as iemand met ‘n sagte hart en wat ten koste van homself sou uitreik om ander mense te help.
Jordaan is Vrydag dood toe hy met sy motorfiets in ‘n botsing op die hoek van Vermikuliet- en Woodbushstraat betrokke was.
Jordaan is in Vereeniging gebore en het na skool aan die Goudstadse Onderwyskollege studeer waarna hy in 1976 by Pietersburg Laerskool as onderwyser aangesluit het. Na baie jare in die onderwys het hy as afslaer en toe as skakelbeampte van burgerlike beskerming by die Noord-Transvaalse Streekdiensteraad gewerk, waarna hy by Old Mutual as finansiële adviseur aangesluit het. Hy was ook mede-eienaar van die destydse Burgundy’s in Savannah Mall. Na sy aftrede het hy by CV World in die stad as onderdelebestuurder begin werk waar hy ten tyde van sy dood steeds werksaam was.
Jordaan was ook ‘n bekende gesig by PanSolutions Noordelikes Rugbyklub en aktief by die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) betrokke.
“Baie mense het hom geken. Hy was ‘n broer, pa en mentor vir menigte en het diep spore in die gemeenskap getrap,” meen eienaar van CV World, Trevor van Niekerk.
Hy beskryf hom verder as iemand wat baie vrygewig was en sonder twyfel iemand anders sou help waar hy kan. “Nic was lief vir die lewe, altyd positief en sy sin vir humor sal ons altyd bybly.”
Jordaan en sy vrou, Noeline was 43 jaar getroud en sy het hom beskryf as iemand met baie geduld wat altyd tyd gemaak het om sy medemens te help.
Benewens sy vrou laat hy sy twee dogters, Alicia en Nicoline sowel as vier kleinkinders agter.
‘n Roudiens word Saterdag om 11:00 vanuit die NG Kerk Noordgemeente in Dorpstraat gehou.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button