Tommies se slimkop, Divan Pieterse derde in distrik

Wiskunde en wetenskap is verpligtend in ‘n tegniese skool en ‘n leerder moet swoeg en sweet om dié gevreesde vakke baas te raak en boonop nog tot so mate presteer dat jy kop en skouers bo die ander uitstaan. Maar die graad 12-leerder van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, Divan Pieterse, laat dit na soetkoek …

Wiskunde en wetenskap is verpligtend in ‘n tegniese skool en ‘n leerder moet swoeg en sweet om dié gevreesde vakke baas te raak en boonop nog tot so mate presteer dat jy kop en skouers bo die ander uitstaan.
Maar die graad 12-leerder van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, Divan Pieterse, laat dit na soetkoek lyk nadat hy derde op die departement van onderwys se lys van top­leerders in die Capricorndistrik geëindig het. Hy het vandeesweek sy sertifikaat ontvang om sy prestasie tydens verlede jaar se eindeksamen te bevestig.
Volgens Tommies-adjunkhoof, Vanessa Kachelhoffer, sit dit nie in elke Tommie se broek om dié prestasie te behaal nie juis omdat wiskunde en wetenskap as verpligte vakke baie leerders se kanse om goed te doen, kniehalter.
Divan het tydens verlede jaar se eindeksamen ‘n gemiddeld van 88,57% behaal en tydens die akademiese prysuitdeling met die vakpryse in ingenieursgrafika en ontwerp, fisiese wetenskappe, wiskunde, lewensoriëntering en digitale elektronika weggestap.
“Ek is trots op die prestasie want om in ‘n tegniese skool te wees is nie maklik nie. Baie mense dink tegniese skole is vir kinders wat nie goed in akademie is nie, maar hulle het ‘n wanpersepsie van wat dit behels veral wanneer verpligte vakke in ag geneem word. Jy moet lang ure agter die boeke spandeer om die werk te verstaan,” sê Divan.
Volgens hom sien hy elke les as ‘n uitdaging en word met ‘n bevredigende gevoel beloon wanneer hy dit verstaan en kan toepas.
Hy werk hard om aan die einde van die jaar ten minste 85% gemiddeld te behaal om vir ‘n beurs by die Universiteit van Noordwes te kwalifiseer waar hy chemiese ingenieurswese wil studeer.
Divan erken hy het in graad 8 slap gelê en heeltemal te veel tyd met sy rekenaarspeletjies deurgebring, maar hy het vinnig besef hy sal skouer aan die wiel moet sit as hy goeie punte wil behaal.
“In graad 8 was ek op die lys vir top tien aka­demiese leerders in die skool en sedert graad 9 elke jaar aangewys as die top akademiese leerder in die betrokke graad,” sê Divan trots.
Sy raad aan leerders in tegniese skole is om alle werk in te oefen tot jy dit verstaan en regkry. “Tegniese vakke is soos sport – hoe meer jy oefen hoe beter gaan jy word. Maak seker jy verstaan die werk en vra as jy nie weet nie. Let op in die klas want as jy die onderwy­ser verstaan, ken jy klaar 80% van die werk. Moenie klasse misloop nie en hersien jou werk daagliks na skool om seker te maak jy kry dit onder die knie.”
Divan speel in sy vrye tyd aksienetbal en is ook ‘n kranige hoogspring- en driesprongatleet. “Ek het sport die afgelope paar jare afgeskeep omdat die akademiese werk te veel van my tyd in beslag neem. Ek het darem ‘n bronsmedalje in hoogspring tydens vanjaar se atletiekseisoen verwerf,” sê Divan.

Storie & foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button