Meubelmaker vorm kunswerke uit dit wat natuur voortbring

Na ‘n onverwagse maar welkome reënbui wat Polokwane op ‘n Saterdagoggend toevou hang daar ‘n grou-grysheid oor die westekant van die stad. Skoongewaste groen loof omvou die skouer van die pad wat lei in die rigting van Kalkfontein-plaasgedeeltes. Met die oorweldigende reuk van ‘n nat aarde kom die besef dat die natuur hier gul uiting …

Na ‘n onverwagse maar welkome reënbui wat Polokwane op ‘n Saterdagoggend toevou hang daar ‘n grou-grysheid oor die westekant van die stad. Skoongewaste groen loof omvou die skouer van die pad wat lei in die rigting van Kalkfontein-plaasgedeeltes. Met die oorweldigende reuk van ‘n nat aarde kom die besef dat die natuur hier gul uiting gee aan ‘n speelse palet van kleure.
Die rit deur die milleue berei die besoeker gepas voor vir ‘n kuier in die werkswinkel van Wynand Scott, gesoute meubelmaker, oud-houtwerkonderwyser, skepper van uitstalstukke en liefhebber van dit wat die bos voortbring.
Deesdae is daar ook klem op die boomsiklus-konsep wat vereis dat die mens iets teruggee wanneer daar uit die omgewing geleen word. Omring van sy werksgereedskap in ‘n lugtige ruimte vertel Scott van sy ywer om inheemse bome uit sy kwekery as geskenke aan kliënte te gee in ruil vir hul ondersteuning in die vorm van groot aankope. Dan kan daar onder meer uit die akasia-familie, ‘n apiesdoring, ‘n wilde pruim, essenhout of rooi-essenhout, wit stinkhout of ‘n huilboerboon gekies word. Indien die ontvanger weens reisafstand nie die boom in besit kan neem om te plant nie, kan plan gemaak word om die geskenk aan ‘n plaaslike skool van keuse te gee om dit op hul terrein te verewig. Volgens hom sal hy hulp om die idee in Limpopo te vestig verwelkom.
Hy verduidelik dat hy die saad vir die bome self plant, dit laat ontkiem en mettertyd in groter sakke oorplant totdat dit groot genoeg is om te verkoop. So het duisende bome deur die jare hul weg na plekke soos Broadlands Estate en Pietersburg Hoërskool (PHS) in Polokwane gevind en is die onmiddellike omgewing in ‘n natuurlike woud omskep.
Scott vertel dat dié deel van Limpopo met die meeste mooiste inheemse houtsoorte spog en dit ideaal vir die vervaardiging van mes-hewwe is. Hy het dan ook die afgelope minder as ‘n jaar blokkies uit verskeie houtsoorte aan mesmakers regoor die provinsie begin verskaf. Daar word vertel dat hy meer as 1 000 blokkies hout gevorm uit 20 van die 28 inheemse boomspesies in Suid-Afrika in sy versameling tuis het.
In die teenwoordigheid van sy jarelange geesgenoot, Flip Wessels draai die gesprek na die huidige plaaslike gunstelinge in die vorm van hardekool, olienhout en tambotie – wat ook Scott se stempel as voorkeur-hout wegdra – en word daar vertel dat pienk ivoor en ebbehout wêreldwyd die pas aangee.
Daar word onderhoudend gesels oor bepalende faktore soos spesie, karakter, kleur en grein wat slegs met jare se ondervinding, kennis en kundigheid gepaard kan gaan. Waar hy voorheen kwaliteit uit hout gehaal het, word daar deesdae na karakter gehunker, noem Scott. Maar daar word eerder herwin as wat ‘n boom afgesaag word.
Glimlaggend vertel hy van saagsels in die bloed wanneer Scott sy beheptheid met hout verklaar. Hy is reeds 50 jaar in die bedryf en neem die besoeker terug na 1972 toe die gogga hom gebyt het tydens sy studies in houtwerk aan ‘n onderwyskollege en hy as jong student ‘n tambotie-koffietafel vervaardig het. Hy het dan ook op skool in Carolina, waar hy grootgeword het, reeds vir sy pa ‘n gereedskapskis uit dennehout gemaak.
Hy vertel gevolglik oor die skeppingsvreugde om iets uit hout te kan voortbring. Daar is niks so lekker as om in die veld te gaan soek na dit wat die natuur aan die mens gee nie, verduidelik hy en onthou ‘n bestelling deur ‘n argitek/ingenieur wat jare gelede stelle houtblokkies as geskenke vir sy kliënte wou hê en dit van Scott vereis het om in die bos na bome te gaan soek.
Die mooiste grootste stuk hout waarmee hy al gewerk het was ‘n toonbank van 1 m x 8 m gemaak uit minger, onthou hy. Daar was ook die keer toe hy ‘n preekstoel uit tambotie en banke uit saligna moes vervaardig na ‘n brand in die NG Kerk-gebou op Swartwater.
Hy was betrokke by die African Ivory Route-projek in die begin van 2000 en verantwoordelik vir tente-akkommodasie, houtdekke en die interieur van die gemeenskaplike eetvertrekke in die kampe op die roete. Die vloed in April daardie jaar het Letaba Ranch-kamp meegesleur, onthou hy, en het die projek vyf tot ses jaar geneem om te voltooi. In ligter trant verwys hy na die meubels wat hy vir die stel van die destydse gewilde tele­visiegeselsprogram, Spies en Plessis, moes maak.
Die storie gaan maak verder ‘n draai in die negentigerjare toe Scott se onderneming garagedeure moes vervaardig en hy inderhaas ‘n bestelling moes afhandel. ‘n Ongeluk met ‘n vingerlas-masjien het daartoe gelei dat hy drie van sy vingers aan een hand gedeeltelik verloor het. Gelukkig gaan dit nou rustiger en geniet hy die houtwerk.
Die Scott-huishouding is vol tambotiemeubels, noem hy, maar die stuk wat hom die naaste aan die hart lê is ‘n viersitplek-riempiesbank wat staanplek in sy een dogter se woonplek gevind het. Tot dusver was dit nog die mooiste “skildery” wat hy voortgebring het en is dit die geheelbeeld wat hom aanstaan.
Scott meen ten slotte dat hy die gelukkigste tussen sy houtstukke is en dit ‘n kalmte meebring.

Storie en foto’s: YOLANDE NEL
>>observer.yolande@gmail.com

In gesprek met Flip Wessels, geesgenoot wat sy liefde vir hout deel.
‘n Voorstelling van die boomsiklus-konsep waarvoor Wynand Scott hom beywer.
Houtblokkies bestem vir mes-hewwe.
Die rou materiaal en eindproduk.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button