Homes

Vooruitsigte vir eiendomsmark

Eiendom word in die algemeen as die beste tipe langtermynbelegging beskou en bewegings in die plaaslike eiendomsmark is een van die maatstawwe waaraan ‘n dorp of stad se ekonomiese vooruitgang gemeet word. Aïda Polokwane se prinsipaal, Anton Hanekom, beskryf sy vooruitsigte vir die plaaslike eiendomsmark as versigtig optimisties en sê alles hang tans van die …

Eiendom word in die algemeen as die beste tipe langtermynbelegging beskou en bewegings in die plaaslike eiendomsmark is een van die maatstawwe waaraan ‘n dorp of stad se ekonomiese vooruitgang gemeet word.
Aïda Polokwane se prinsipaal, Anton Hanekom, beskryf sy vooruitsigte vir die plaaslike eiendomsmark as versigtig optimisties en sê alles hang tans van die politieke landskap af met die oog op die verkiesing in Mei.
“Huispryse sal onder druk bly met min of geen styging in waardes. Rentekoerse gaan ook laag bly omdat die Reserwebank reeds aangedui het dat rentekoerse slegs marginaal sal styg met nie meer as 1% nie. Verder het die komende verkiesing ook ‘n groot invloed omdat potensiële kopers eers wag om te sien hoe die mark na die verkiesing gaan reageer voordat hulle besluite neem,” meen Hanekom.
Hanekom sê daar is tans min groei in huispryse indien enige.
“Daar heers groot onsekerheid by potensiële kopers van duurder eiendomme en plase veral oor die grondonteieningkwessie. Sentiment in die mark is egter besig om stadig maar seker ten goede te verander veral na die verlaging in die brandstofprys, die verande­ring in politieke leierskap en goeie reëns in sekere droogtegeteisterde gebiede in die provinsie.”
Elke jaar kom ook met uitdagings en volgens Hanekom is die grootste kopseer om goeie voorraad teen markverwante pryse te bekom. “Ernstige verkopers sal hulle pryse moet aanpas by die tendense in die mark. Kredietwaardigheid van potensiële kopers maak dit ook moeilik om huise te verkoop omdat hoë skuldvlakke van verbruikers veroorsaak dat bekostigbaarheid om eiendom te koop, onder druk is. Eiendom bly egter ‘n goeie langtermynbelegging,” sê hy.
Wat kopers se voorkeure betref, blyk dit duidelik dat hoewel die meerderheid se geldsake knyp, mense steeds na moderniteit smag en dat die voorkoms van misdaad ‘n groot rol speel.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button