Local NewsNews

Woede oor hernuwing van bestuurderslisensies

Algemene ontevredenheid heers by inwoners van die stad waarvan sommige al meer as ses maande wag op die heruitreiking van hul bestuurderslisensies. Luidens ‘n verklaring wat verlede Woensdag deur die nasionale department van vervoer uitgereik is, was die landwye agterstand in Desember reeds 90 000 en het dit sedertdien tot 324 000 gegroei. Blade Nzimande, …

Algemene ontevredenheid heers by inwoners van die stad waarvan sommige al meer as ses maande wag op die heruitreiking van hul bestuurderslisensies.
Luidens ‘n verklaring wat verlede Woensdag deur die nasionale department van vervoer uitgereik is, was die landwye agterstand in Desember reeds 90 000 en het dit sedertdien tot 324 000 gegroei. Blade Nzimande, minister van vervoer, sê in die verklaring dat die departement ‘n gebeurlikheidsplan in werking gestel het om wagtye in te kort en dat die agterstand binne drie weke ingehaal sal word.
Die agterstand is glo te wyte aan ‘n drie maande lange staking van werkers van Driving Licensing Card Account (DLCA), ‘n besigheidsentiteit van die departement wat vir die druk van die rybewys­kaarte verantwoordelik is. Die sta­king is in Desember afgelas, maar die loongeskil waaroor die staking gegaan het, is steeds onafgehandel. Volgens die verklaring het die feit dat die staking met DLCA se jaarlikse instandhouding van toerusting saamgeval het, verder tot die agterstand bygedra.
“Ons is uitgelewer aan die owerheid en hoewel ons lank voor die tyd om nuwe lisensiekaarte aansoek gedoen het, word ons verplig om tydelike lisensies teen betaling van R85 uit te neem of vervolging in die gesig te staar. En dit omdat die owerheid voete sleep en toelaat dat ‘n agterstand wat moeilik ingehaal kan word, ontstaan,” sê ‘n ontstoke inwoner wat reeds in Desember vir sy nuwe lisensie aansoek gedoen het. “Teen R85 per tydelike lisensie, kos dit die publiek meer as R27,5 miljoen vir die 324 000 tydelike lisensies, wat bykomend is tot die aanvanklike aansoekfooi van R216,” voeg hy by.
‘n Ander inwoner sê dat hy byna sy vakansieplanne moes kanselleer omdat hy ‘n voertuig wou huur en nie betyds sy nuwe lisensie ontvang het nie, hoewel hy twee maande voor die vervaldatum reeds aansoek gedoen het. “Toe ek per SMS by DLCA se nommer 33214 navraag doen, is ek meegedeel dat my aansoek nie op rekord is nie. Ek moet seker nou weer ‘n volle dag afstaan en van vooraf aansoek doen.”
Volgens Ishmael Mnisi, woordvoerder van die department, hoef bestuurders wat voordat hulle lisensies verval het, om hernuwing aansoek gedoen het en tydelike lisensies uitgeneem het, nie weer ‘n tydelike lisensie uit te neem nie. Motoriste wat meer as drie maande voordat hul lisensies verval het aansoek gedoen het hoef nie tydelike lisensies uit te neem nie, maar moet slegs hul kwitansiebesonderhede byderhand hou. Mnisi het bevestig dat verkeersowerhede versoek is om nie teen motoriste met tydelike lisensies wat verval het op te tree nie. Hy het motoriste wat wel vervolg word aangeraai om vertoë te rig op ‘n vorm wat op www.aarto.gov.za beskikbaar is. Voltooide vorms moet aan revocation@rtia.co.za gestuur word.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button