Local NewsNews

Bolhuis blaas in plaaslike privaatspeurder se nek

‘n Dossier wat verband hou met die beweerde skelmstreke van ‘n plaaslike sogenaamde privaatspeurder en wat klagte van wanvoorstelling, bedrog en diefstal bevat is reeds deur bekende privaatspeurder, Mike Bolhuis, saamgestel en hy oorweeg om dié dossier binnekort formeel by die polisie in te dien. Bolhuis het Polokwane Observer genader met die inligting dat hy …

‘n Dossier wat verband hou met die beweerde skelmstreke van ‘n plaaslike sogenaamde privaatspeurder en wat klagte van wanvoorstelling, bedrog en diefstal bevat is reeds deur bekende privaatspeurder, Mike Bolhuis, saamgestel en hy oorweeg om dié dossier binnekort formeel by die polisie in te dien.
Bolhuis het Polokwane Observer genader met die inligting dat hy ongeveer twee jaar gelede deur ‘n Polokwane-inwoner vir bystand genader is nadat sy glo byna R1,7 miljoen deur die sogenaamde privaatspeurder se beweerde skelmstreke verloor het.
Bolhuis se ondersoek het ongeveer ‘n jaar gelede tot ‘n vergadering met die privaatspeurder gelei waarin hy glo voorgeneem het om die geld terug te betaal, maar dit blyk dié belofte nie lank gehou het nie en daarom is Bolhuis tans in die proses om kriminele klagte teen die privaatspeurder te lê.
Bolhuis sê die saak spruit uit 2015 toe die vrou die speurder genader het om haar met haar egskeiding te help. “Hy sou haar glo toegang tot ‘n goeie egskeidings­prokureur bied en sy het in 2016 ‘n finansiële skikkingsbedrag uit die verbrokkelde huwelik ontvang. Die slagoffer is blykbaar deur ander partye ingedoen en sy het weer die sogenaamde privaatspeurder genader wat om een of ander rede nog geld van haar geëis het vir dienste wat glo nooit gerealiseer het nie,” sê Bolhuis.
Bolhuis beweer die privaatspeurder het sy slagoffer vermoedelik verder oorreed om vir hom ‘n bakkie ter waarde van R405 000 te koop en die voertuig is op sy naam gere­gistreer.
Sy het glo ‘n tweede voertuig op huurkoop aangeskaf wat deur die privaatspeurder gebruik word. Verder het hy glo derduisende rand op sy slagoffer se klererekening spandeer en haar glo oorreed om verskeie selfoonkontrakte in haar naam te open wat hy glo vir sy persoonlike doel­eindes gebruik het, volgens Bolhuis.
Volgens Bolhuis is daar bewyse van alle transaksies tussen die twee partye en die aanhoudende manipulasie het selfs veroorsaak dat die slagoffer al in ‘n kliniek vir spanning opgeneem is.
Bolhuis sê die privaatspeurdiens is sekerlik een van die industrieë waar die meeste korrupsie voorkom.
“Sulke insidente gee die industrie nie net ‘n slegte naam nie, maar dit maak deure toe vir mense wat regtig die dienste van privaatspeurders benodig.
Korrupte privaatspeurders misbruik die voorkoms van die industrie, bedrieg kliënte om geld uit te haal, gebruik geld vir eie gewin, kan nie die werk doen nie, oordryf om nog meer geld uit hul slagoffers te tap en teiken veral weerbare vroue,” sê Bolhuis.
Polokwane Observer het voorheen oor die sogenaamde privaatspeurder se beweerde jakkalstreke berig en ‘n leser het teen druktyd die publikasie geskakel oor nog ‘n klagte teen hom. Die persoon wat verkies om anoniem te bly beweer hy is onlangs deur die sogenaamde privaatspeurder met R5 000 ingedoen.
“Ek het vroeër vanjaar my motor vir herstelwerk na ‘n werktuigkundige in die stad geneem. Die werktuigkundige het met die werk gesloer en telkens ‘n verskoning gehad waarom die motor nog nie reg is nie en is later daarmee vort. ‘n Plaaslike prokureur het my na die privaatspeurder verwys. Ek het in Maart of April vanjaar vir hom R5 000 gegee om die saak te hanteer, maar sedertdien was daar nog net versko­nings oor hoe ver hy met die ondersoek is en hoekom hy my geld nie eerder terugbetaal nie,” sê die slagoffer.
Hy het by die polisie om hulp aange­klop, maar hy is glo meegedeel dat daar geen konkrete bewyse is nie en die saak geen water dra nie.
Bolhuis het persone wat voorheen slagoffers van die sogenaamde privaatspeurder was aangemoedig om hom te kontak by mikebolhuis1@gmail.com.

Story: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button