Local NewsNews

Gevreesde Scheepers-broers aangekeer vir rooftog, diefstal

Die gevaarlike en gevreesde Scheepers-broers, wat skynbaar vir jare ‘n skrikbewind in en rondom Polokwane gevoer het en volgens inligting glo met meer as 100 sake wat van moord tot diefstal wissel verbind word, is wéér agter tralies. Maphure Manamela van die provinsiale polisie se kommunikasie-afdeling het die arrestasies wat verlede week uitgevoer is, bevestig. …

Die gevaarlike en gevreesde Scheepers-broers, wat skynbaar vir jare ‘n skrikbewind in en rondom Polokwane gevoer het en volgens inligting glo met meer as 100 sake wat van moord tot diefstal wissel verbind word, is wéér agter tralies.
Maphure Manamela van die provinsiale polisie se kommunikasie-afdeling het die arrestasies wat verlede week uitgevoer is, bevestig. “Aden Scheepers is verlede week op aanklag van rooftog aangekeer terwyl sy broer, Baden, ook verlede week op aanklag van diefstal vanuit motorvoertuig gearresteer is. Beide het reeds Vrydag in die Polokwane landdros­hof verskyn. Ek kan nie bevestig wanneer Aden weer sal verskyn nie, maar Baden sou na verwagting gister (Woensdag) met sy borg­aansoek voortgegaan het,” sê Manamela.
Sy het verder bevestig dat beide broers steeds in aanhouding is, maar wou nie oor die aantal aanklagte teen hulle uitbrei nie en gesê dit vorm deel van ‘n baie sensitiewe ondersoek.
Polokwane Observer het verlede week berig oor ‘n voorval in Kerkstraat waar een van die broers tydens ‘n polisiesoektog aangekeer is. Volgens ‘n bron het die twee glo ‘n lang misdaadge­skiedenis en is voorheen na bewering verskeie kere aangekeer, maar om een of ander duistere rede vrygelaat. Die broers is blykbaar lank in die polisie se visier en hulle het verlede Maandag inligting ontvang dat hulle by ‘n huis in Ladanna skuil.
Hulle is glo gewaarsku dat die polisie op hulle spoor is waarna die manne in blou hulle soektog in Kerkstraat voortgesit het.
Met die polisie se aankoms het die broers oor mure van erwe en persele gespring en is vort.
Die lugvleuel is ingeroep om met die soektog te help en ‘n broer is toe in ‘n huis vasgetrek.
Dit is onduidelik waar die ander broer aangekeer is.
“Almal is bang vir hulle. Hulle twee saam is net moeilikheid,” het bronne beweer.

Related Articles

Back to top button