Local NewsNews

N1-snelweg eis nog nege lewens in drie botsings gedurende die naweek

Terwyl familie en vriende steeds die dood van 26 mense in ‘n gru-botsing ongeveer twee weke gelede op die N1 naby Kranskop verwerk en die Premier Stan Mathabatha intussen ‘n vervoer-imbizo gehou het om padveiligheid in die provinsie te bespreek, het nog nege mense Vrydag en Saterdag in drie afsonderlike botsings op die snelweg omgekom. …

Terwyl familie en vriende steeds die dood van 26 mense in ‘n gru-botsing ongeveer twee weke gelede op die N1 naby Kranskop verwerk en die Premier Stan Mathabatha intussen ‘n vervoer-imbizo gehou het om padveiligheid in die provinsie te bespreek, het nog nege mense Vrydag en Saterdag in drie afsonderlike botsings op die snelweg omgekom.
Die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid-woordvoerder, Matome Moremi-Taueatsoala, sê ‘n botsing tussen ‘n Kia voertuig en Ford bakkie het Vrydag die lewens van ses mense in ‘n botsing geëis wat glo naby die deel op die N1 gebeur het waar geliefde Polokwane-inwoners, Pierre en Erika Bantjes en 24 ander mense onlangs dood is.
Moremi-Taueatsoala sê die ses insittendes van die Kia was glo vanaf Tembisa na Mokopane vir ‘n troue onderweg toe die ongeluk gebeur het en almal is lede van dieselfde familie.

Die toneel op die N1 waarin twee mense dood is nadat ‘n bus glo agter in ‘n Mercedes-Benz vasgery het.

Saterdag is twee mense op die N1 naby Midway Bricks dood toe ‘n bus van agter teen ‘n Mercedes-Benz gebots het. Vermoedelik het ‘n bakkie met ‘n sleepwa in die pad onklaar geraak en die bestuurder van ‘n Mercedes het om een of ander rede agter die sleepwa stilgehou toe ‘n bus van agter teen dié voertuig gebots het. Twee passasiers wat agter in die Mercedes-Benz gesit het, is op die toneel dood.
In die derde botsing wat Saterdag op die N1 naby die Mookgophong-afrit gebeur het, is nog ‘n persoon dood.
Moremi-Taueatsoala sê die bestuurder van ‘n bakkie het glo ‘n onwettige U-draai op die snelweg gemaak toe ‘n Mercedes-Benz teen hom vasgejaag het. Die impak was so groot dat die bakkie in twee geskeur het. Die be­stuurder is op die toneel dood.
LUR vir vervoer, Makoma Makhurupetje, sê benewens die nege lewens wat verloor is het 11 mense in die drie botsings geringe tot ernstige beserings opgedoen. “Terwyl ons ons meegevoel met familie en vriende deel, wil ons weer ‘n beroep op motoriste doen om geduld op die paaie te beoefen, padreëls te gehoorsaam en ten alle tye veilig te bestuur,” het Makhurupetje in ‘n persverklaring gesê.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button