Mangrot, oorvloed geskenke, smullekker eetgoed by Lentemark

Benewens die Lentemark en Geskenktrommel wat van die naweek af by die NG Kerk Pietersburg-Oos plaasvind, kan besoekers van selfs naburige dorpe hul met talle speletjies besig hou, van die mangrot se massiewe winskopies aanskaf of net saameet en -kuier in die pragtige koffiewinkel met besondere spyskaart of op die rustige terrein. Die Geskenktrommel met …

Benewens die Lentemark en Geskenktrommel wat van die naweek af by die NG Kerk Pietersburg-Oos plaasvind, kan besoekers van selfs naburige dorpe hul met talle speletjies besig hou, van die mangrot se massiewe winskopies aanskaf of net saameet en -kuier in die pragtige koffiewinkel met besondere spyskaart of op die rustige terrein.
Die Geskenktrommel met handgemaakte geskenke en eetgoed is in die kerksaal uitgestal en kopers het rustig tussen die tafels beweeg en die kreatiwiteit van die uitstallers bewonder. ‘n Nuutjie is ‘n uitstalling van die betowerende plantspesie, bromeliads, wat teen bekostigbare pryse aangekoop kan word.
Die ontbyt wat Saterdagoggend aangebied is, het groot aftrek gekry, terwyl Sondag se kerkdiens met orrel- en trompetspel goed bygewoon is. ‘n Piekniekbraai is daarna onder die bome op die kerkterrein gehou.
Maandag was ‘n openbare vakansiedag en benewens ‘n kuns- en stokperdjie-uitstalling, kon besoekers hul eie potjiekos of braaivleis op die terrein hou.
Potspel, veerpyltjies en tafeltennis het gesorg dat diegene wat genoeg energie het, hul vernuf teen vriende kon toets. ‘n ‘Money or the box’-speletjie met aantreklike pryse het vir groot opwinding gesorg en helpers moes in die koffiewinkel bontstaan om almal te bedien.
Tjaart Meyer, leraar, sê vanjaar se mark word sover twee keer beter as verlede jaar s’n ondersteun. “Hordes mense het sedert Saterdag mark toe gestroom en baie nuwe gesigte is opgemerk. Gemeentelede is uitgenooi om hulle energie te kom verbrand en baie staan ‘n hele week van hul tyd af om te werk,” vertel Meyer.
“Die publiek word uitgenooi om daagliks wegneemetes te bestel en na werk op die terrein te geniet of huis toe te neem. Buitelugkaggels sorg vir ‘n intieme kuieratmosfeer,” sê Ilze Meyer.
Die mark duur tot Saterdag, 29 September en is daagliks van 10:00 tot 19:00 oop.

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Carron Gwilym en Suzan Caroto koop geskenke by die Lentemark.
Amoré Jansen van Vuuren en Bianca Evert hou van die veel­kleurige spookasem.
Hennie Gouws en Johan Heyneke braai boerewors vir die gewilde worsbroodjies.
Bonnita en Michaela Becker verkoop Rhino Beetle Gin wat in Polokwane gedistilleer word.
Fanus Jansen van Vuuren wys sy behendigheid by die pannekoektafel.

Related Articles

Back to top button