Skool daag ander uit om deel te wees van Kersfeesvreugde met Kersfees-skoendoosprojek

Plaaslike inwoners en instansies kan ‘n verskil in die lewens van minderbevoorregtes maak deur deel te wees van Vision of Hope Foundation (VoHF) se Kersfees-skoendoosprojek. Die projek behels dat vrywilligers of groepe ‘n versierde skoendoos met items vul wat van ‘n lys gekies kan word. ‘n Bemoedigende boodskappie kan tot die vreugde van die ontvanger …

Plaaslike inwoners en instansies kan ‘n verskil in die lewens van minderbevoorregtes maak deur deel te wees van Vision of Hope Foundation (VoHF) se Kersfees-skoendoosprojek.
Die projek behels dat vrywilligers of groepe ‘n versierde skoendoos met items vul wat van ‘n lys gekies kan word. ‘n Bemoedigende boodskappie kan tot die vreugde van die ontvanger bydra.
Inwoners van Tuiskoms-, Aretha-, Bella Vista-, Komarin- en Ivydale-skuiling sowel as Pietersburg Hulpgroep sal die geskenkdose tydens ‘n Kerspartytjie wat nog beplan word ontvang. Drienie van Wyk, VoHF-voorsitter, sê die oomblik wat die ontvanger sy of haar geskenk oopmaak en mens die voorreg het om die vreugde en dankbaarheid op ‘n gesig te sien, besef ‘n mens dat van die ontvangers nog nooit in hul lewens die voorreg gehad het om van die alledaagse items te hê waarvan ander dalk ‘n oorvloed het nie. “Dit is die ideale geleentheid vir ‘n groep of instansie om saam te span en met die oog op Kersfees tot die projek by te dra,” sê Van Wyk.
Onderwysers van Pietersburg Laerskool (Suidskool) het besluit om deel te neem aan hierdie initiatief en het ander skole se leerkragte uitgedaag om dieselfde te doen. “So ‘n geskenk is ‘n wonderlike gebaar aan minderbe­voorregtes in ons gemeenskap. Dit kos nie veel nie en is ook nie baie moeite nie,” sê die skool se skakelbeampte Charlotte van den Berg.
Lys van voorgestelde geskenke, afhangend van geslag
Sanitêre- en toiletware soos ‘n lekkerruiksepie, waslap, tandeborsel, tandepasta, sneesdoekies, kam, borsel, sjampoe, reukweerder, lyfroom en weggooibare skeermesse. ‘n Notaboek en pen, haarversie­rings, boekie met inspirasieboodskappe, blanko geskenkkaartjies en koeverte, drasak vir kruideniersware/items, iets lekker om te eet (nie bederfbaar), beursie of handige sakkie en inkleurboek en kleurkryt vir volwassenes sal ook handig te pas kom.
Skakel Van Wyk by 083 495 3959 vir navrae of om deel van die opwindende projek te wees.

Storie en foto: KAREN VENTER
>>karen@observer.co.za

 

Related Articles

Back to top button