Wihan Deyzel (8) loop oor van talent in gevegkuns

Klein botteltjie, groot gif. Dié gesegde is nommerpas vir die agtjarige Wihan Deyzel wanneer dit by gevegkuns kom. Tydens die onlangse South African Korean Martial Arts Association (Sakmaa) Nasionale Kampioenskappe in Potchefstroom het hy twee goue medaljes vir forms (kata) en boform (tradisionele wapens) ingepalm en terselfdertyd ‘n silwermedalje vir sparring (skerm) losgeslaan. Die feit …

Klein botteltjie, groot gif.
Dié gesegde is nommerpas vir die agtjarige Wihan Deyzel wanneer dit by gevegkuns kom.
Tydens die onlangse South African Korean Martial Arts Association (Sakmaa) Nasionale Kampioenskappe in Potchefstroom het hy twee goue medaljes vir forms (kata) en boform (tradisionele wapens) ingepalm en terselfdertyd ‘n silwermedalje vir sparring (skerm) losgeslaan.
Die feit dat Wihan, ‘n lid van die plaaslike Rohan Verwey Martial Arts and Karate for Kids-klub, in Desember eers aan dié sport begin deelneem het, maak sy prestasie soveel merkwaardiger. Sedert hy Januarie aan kompetisies begin deelneem het, het hy al 21 goue medaljes verower. Sy nuutste prestasie is die vier goue medaljes wat hy die afgelope naweek na die Pretoria Development Tournament om sy nek kon hang.
Wihan, wat besig is om die Amerikaanse taekwondo-styl ook te bemees­ter, het selfs tydens die gewilde Arnold Classics in Sandton in Mei twee goue- en een silwermedalje ingepalm.
“Met sy passie vir taekwondo (Koreaanse gevegs- en selfverdedigingskuns waarby deelnemers slaan en skop, maar geen wapens gebruik nie en as sportsoort beoefen) is hy ‘n potensiële wêreldkampioen. Op só ‘n jong ouderdom is Wihan toegewyd en hardwer­kend met hope deursettingsvermoë wat hom ‘n blink toekoms kan verseker,” sê sy afrigter, Rohan Verwey.
Wihan se ander beste eienskappe is volgens Verwey sy vermoë om baie goed na instruksies te luister, tegnieke perfek aan te leer en bereid is om baie tyd op te offer om fiks te word.
Sy ouers, Sonja en Johann, ondersteun hom ten volle en ry maandeliks duisende kilometer om hom by kompetisies te besorg.
“Die volgende kompetisie is op 28 en 29 September in Stellenbosch waar hy aan die Destiny 2018-toernooi gaan deelneem. ‘n Maand later is die WoW Spelfees in dieselfde dorp waarvoor hy ook gekies is. Ons gee nie om nie want hy het soveel passie in alles wat hy aanpak dat dit eintlik aansteeklik is,” sê Sonja.
Wihan, ‘n graad 2-leerder van Laerskool Pietersburg-Oos, het groot drome vir sy toekoms en hoop om in 2020 aan die junior wêreldkampioenskappe vir gevegkuns deel te neem.
“Ek doen al drie jaar skopboks waarin ek provinsiale kleure behaal het en my onmiddellike doelwit is om tydens die eers­daagse nasionale skopboks­kampioenskappe ‘n sege te behaal.”
Die woelwater geniet die dissipline wat met beide sport­soorte gepaard gaan. “Dit leer jou nie net om jouself te verdedig nie, maar ook om respek vir ander te hê asook integriteit en selfbeheersing. Boonop hou dit jou fiks en jou brein vars om op skool te presteer,” meen hy.
Sonja dink haar seun se sporttalent spoel waarskynlik van die familie af oor omdat ooms, neefs en niggies ook op dié gebied uitblink.
Tae beteken in Koreaans om met die voet (stukkend) te trap, kwon is om te breek (met die vuis) en do is die manier of wyse waarop dit gedoen word.

Storie & foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button