Local NewsNews

Anna de Beer het baie liefde in haar hart vir leerders gehad

Anna de Beer, ‘n onderwyser in murg en been, en lid van ‘n familie in wie se are die onderwysbloed dik loop, is Dinsdagmiddag aan kanker oorlede. Johan, self ‘n geliefde onderwyser van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, wat einde verlede jaar afgetree het, het gister (Woensdag) aan Polokwane Observer gesê sy voete is onder …

Anna de Beer, ‘n onderwyser in murg en been, en lid van ‘n familie in wie se are die onderwysbloed dik loop, is Dinsdagmiddag aan kanker oorlede.
Johan, self ‘n geliefde onderwyser van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, wat einde verlede jaar afgetree het, het gister (Woensdag) aan Polokwane Observer gesê sy voete is onder hom uitgeruk met Anna se dood. “Hoewel ek die laaste vier weke besef het dit kan dalk die einde wees het ek bly hoop want sy was deel van my vir veertig jaar. Ek sal moet aangaan ter wille van my kinders en kleinkinders, maar ek is nog nie eers oor ons jongste seun, Conri, se dood agt jaar gelede nie.”
Anna (64) sou in Maart 2019 by Northern Academy Primary School afgetree het waar sy die afgelope 24 jaar Engels onderrig het.
Aan die begin van Februarie het sy siek geword en is met kolonkanker gediagnoseer, in die Netcare Jakaranda Hospitaal in Pretoria geopereer om die gewas te verwyder en het chemoterapie ondergaan waarna dit beter gegaan het. “Die kanker het egter mettertyd versprei en ander organe aangetas. Die afgelope maand het haar toestand drasties versleg tot met haar dood in dieselfde hospitaal,” sê Johan.
Neil, die oudste seun, en sy vrou, Marriette, is leerkragte by Northern Academy Secondary School. “My ma het as ‘n rots in die onderwys uitgestaan omdat sy onvoorwaardelik lief vir kinders was. Sy het tot op die einde nog kontak met van haar oudleerders gehad wat groot respek vir haar menswees en die invloed wat sy op hul lewens gemaak het, gehad het.”
Celliers en sy vrou, Lizinka, woon die afgelope drie jaar in Rustenburg en het albei ook vroeër in Polokwane skoolgehou. “Ek was baie lief vir Antjie of die ‘ou lady’. My ma was ‘n raakvatter wat ‘n teenwoordigheid gehad het as sy by ‘n vertrek ingestap het. Sy sou enigiets vir haar familie en kinders doen en het baie liefde in haar hart vir haar leerders gehad.”
Voormalige Northern Academy-hoof, Jacques Bartlett, sê onderwys was nie vir haar ‘n werk nie, maar ‘n leefwyse. “Leerders was baie lief vir haar omdat onderrig nie net in haar woorde nie, maar in haar lyftaal weerspieël is.”
‘n Diens word Saterdagoggend om 11:00 in die NG Kerk Pietersburg-Noord gehou waarna ‘n privaat verassingsdiens later sal plaasvind.
Benewens Johan, Neil en Mariette en Celliers en Lizinka en die kleinkinders, Lin-Marié Theodore, Conri jr en Juvan word sy ook deur twee ouer susters oorleef.

Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Related Articles

Back to top button