Local NewsNews

Nóg ‘n spreekkamer loop deur, polisie swyg oor inbreker se identiteit, sleep glo voete

‘n Reeks inbrake by spreekkamers waarvan die nuutste die naweek by ‘n praktyk op die hoek van Grobler- en Pleinstraat, het kommer onder veral werknemers laat toeneem oor beweringe dat die polisie glo weet wie die skuldige is, maar waarskynlik niks omtrent die saak doen nie. “Dit is asof die polisie geen belangstelling in hul …

‘n Reeks inbrake by spreekkamers waarvan die nuutste die naweek by ‘n praktyk op die hoek van Grobler- en Pleinstraat, het kommer onder veral werknemers laat toeneem oor beweringe dat die polisie glo weet wie die skuldige is, maar waarskynlik niks omtrent die saak doen nie.
“Dit is asof die polisie geen belangstelling in hul pligte het nie. Ons raak bang – dalk is inbrake nie meer genoeg vir die skurk(e) nie en ons sit en wag om slagoffers van ‘n gewa­pende roof te word. Daadwerklike pogings sal deur die polisie aangewend moet word om die verdagte aan te keer,” sê Betty Lawrence, ‘n finansiële bestuurder by een van die praktyke in die Medi Chambers-gebou.
‘n Week nadat daar by ‘n spreekkamer op die hoek van Grobler- en Compensatiestraat ingebreek is, het nog ‘n spreekkamer die naweek net ‘n straatblok verder deurgeloop.
Die skuldige is glo bekend aan haweloses en werknemers in die omgewing en selfs aan die polisie.
Sowat vyf spreekkamers het die afgelope drie maande deurgeloop. Lawrence het Polo­kwane Observer gewys waar daar voorheen ingebreek is. “Langsaan het hulle deur die dak gekom deur een van die sinkplate los te maak. By ons het hulle al twee keer deur verskuilde vensters op die dak ingekom. By ander praktyke is ook al ingebreek en die nuutste een is die naweek op die hoek van Grobler- en Pleinstraat,” sê sy.
Lawrence sê tydens die inbraak ‘n week gelede het die inbreker toegang tot die dakvenster gekry, die kluis oopgebreek en met ‘n kamera en meer as R6 000 gevlug. ‘n Hamer wat die inbreker tydens die inbraak gebruik het is langs die kluis gevind en deur die polisie as bewysstuk verwyder.
‘n Hawelose wat in die parkeerarea van die praktyk slaap sê hy het omstreeks 03:00 wakker geword van ‘n geraas in die spreekkamer en het dadelik van die ander wat daar slaap wakker gemaak. “Ons het gesien hoe die inbreker op die dak loop, maar kan nie by die agterkant van die gebou uitkom nie en het die polisie geskakel. Kort daarna was die polisie op die toneel met ‘n man in die vangwa wat ons aan sy wit baadjie en groen tekkies kon herken, maar die polisie het hom glo laat gaan omdat daar nie genoeg bewyse was nie.”
Later die oggend het Lawrence ongeveer vier uur gewag vir die vingerafdrukeenheid om op te daag.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe het die inbraak bevestig en gesê indien enigiemand klagte oor die polisie se diens het, hulle dit dadelik met die Polokwane stasiebe­velvoerder moet opneem.
Teen druktyd kon hy nie kommentaar lewer oor die polisiebeweringe nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

https://www.observer.co.za/spreekkamer-weer-beroof-polisie-weet-glo-wie-skuldige-is/

Related Articles

Back to top button