NewsSchools

Graad 12’s seëvier wéér tydens Kardoesie

Daar word groot fees gevier deur die graad 12-leerders en hul graadvoogde van Hoërskool Pietersburg (PHS) wat Dinsdagaand as Kardoesiewenners aangewys is. Die begeesterde groep leerders was ook wenners in hul graad 8 en -9 jaar en boonop is dit vanjaar die 50ste jaar wat Kardoesie in PHS se besit is. Die matriekgroep se tema …

Daar word groot fees gevier deur die graad 12-leerders en hul graadvoogde van Hoërskool Pietersburg (PHS) wat Dinsdagaand as Kardoesiewenners aangewys is.
Die begeesterde groep leerders was ook wenners in hul graad 8 en -9 jaar en boonop is dit vanjaar die 50ste jaar wat Kardoesie in PHS se besit is.
Die matriekgroep se tema “18 till I die” het groot aanklank by beoordelaars gevind en hulle is nie net as algehele wenners aangewys nie, maar ook bekroon as die groep met die oorspronklikste tema, beste kreet, beste dissipline en beste gees. Die graad 11-groep se dirigente is as beste vir die aand aangewys.
Kardoesie, ‘n pop wat al 50 jaar deel van PHS se tradisie is, is Dinsdagmiddag ook in die vorm van ‘n lewensgrootte gelukbringer aan die skool bekendge­stel. Die skool was ook bevoorreg om Kardoesie se skenker, Heyla Genis en die hoofseun van 1968, Piet Swanepoel in hul midde te hê om saam fees te vier.
Kardoesie word jaarliks deur die graad 12-leerders ontvoer en is Dinsdagmiddag net ‘n halfuur gegun om saam met leerders haar verjaardag te vier.
Dinsdagaand het oudergewoonte vir groot opwinding gesorg met graadgroepe wat op die pawiljoen om Kardoesie as trofee meegeding het. Eenvormige bewegings, lewendige musiek en vlugtige danspassies het elke graadgroep gekenmerk. Die graad 10-groep was eerste aan die beurt met “Lights, cameras, action” toe die graad 8-groep met “Dancing through the decades” en die graad 9-leerders met “Prison Break.” Die voorlaaste vertoning is deur die graad 11-groep met “Extremely sporty” behartig waarna die graad 12-leerders die aand op ‘n hoogtepunt afgesluit het.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Die graad 10-dirigente met ‘n waaghalsige vertoning. (Foto’s: RC Myburgh)
Wian Haasbroek en Diana van Niekerk, graad 10-dirigente gee die pas aan.
Graad 12-hulpgraadvoog, Linette van der Walt, hoofseun, Louis Nel, graadvoog, Ina van der Merwe en hoofmeisie. Mari Geerkens met die Kardoesie-gelukbringer en die oorspronklike pop wat as trofee vir die wenspan dien.
Die graad 9-groep met die tema “Prison Break.”
Graad 8-dirigente, Lily Greyson en Eduard de Lange voor met Ruvé Erasmus en Werner Swartz agter.
Louis Nel, hoofseun en Willie Schoeman, skoolhoof vier Kardoesie se 50ste verjaarsdag. (Foto’s: Karen Venter)
Kardoesie 2018-beoordelaars, Stefan van Heerden, Marika O’Reilly, Chané Lombaard en Retah McPherson saam met Heyla Genis en Piet Swanepoel voor, en skoolhoof, Willie Schoeman, hoofseun Louis Nel, PHS-gelukbringers, Kardoesie en Pietie en hoofmeisie, Mari Geerkens, agter.
‘n Oorweldigende oomblik vir hoofseun, Louis Nel nadat die graad 12-leer­ders as wenners van Kardoesie aangewys is.
Graad 9-dirigente Megan Veldman en Marcelle de Villiers in aksie.
Heyla (Stoltz) Genis saam met Kardoesie, die pop wat sy in 1968 as gelukbringer aan die skool geskenk het. Kardoesie het haar eerste amptelike optrede by 1968 se Interhoër by Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen gemaak en het vir groot gees onder PHS-leerders gesorg.
Graad 12-dirigente neem die voortou.
Sharn van Rensburg en Mia Schulenburg, graad 11-dirigente wys hoekom hulle dirigentgroep as wenners aangewys is.
Lizbé du Preez en Dirkie van der Merwe, graad 12.
Kardoesie word deur onbekende ontvoerders aangehou maar is ‘n halfuur gegun om haar verjaarsdag met die res van die skool te vier.
Marie Geerkens, hoofmeisie, Kardoesie, Piet Swanepoel, PHS hoofseun van 1968, Heyla (Stoltz) Genis met die Kardoesie-pop wat sy as leerder in 1968 geskenk het, en Louis Nel, hoofseun.
PHS-leerders Christo Stears, Louis Nel en Jean-Pierre Viljoen is gereed om Kardoesie se verjaarsdag te vier.

Related Articles

Back to top button