Local NewsNews

Tienerskoksyfer teregwysing teen ouergenerasie

Skokkende feite wat spreek van ‘n wurggreep op Suid-Afrika se tieners dui op n generasie vir wie vrees, verwerping, verslawing, seksuele druk, selfmoord en selfsny ‘n alledaagse geword het. Statistiek wat op die gevare wat deur Limpopo se kinders tussen 12 en 18 jaar in die gesig gestaar word dui, is ‘n strenge teregwysing teen …

Skokkende feite wat spreek van ‘n wurggreep op Suid-Afrika se tieners dui op n generasie vir wie vrees, verwerping, verslawing, seksuele druk, selfmoord en selfsny ‘n alledaagse geword het. Statistiek wat op die gevare wat deur Limpopo se kinders tussen 12 en 18 jaar in die gesig gestaar word dui, is ‘n strenge teregwysing teen ‘n ouergenerasie wat die land se toekoms in die weegskaal hou.
Tydens ‘n voortgesette inisiatief vir tieners wat die afgelope naweek deur die provinsiale been van Woord In Aksie (WIA) aangebied is, is statistiek gedeel oor ‘n geraamde 75% van deelnemers aan soortgelyke tienerkampe in Gauteng wat met selfmoord en verwerping
wroeg. Daar word gemeen dat die probleme wat onder kampers beide in Gauteng en Limpopo ervaar word, ‘n weergawe van die deursnee Suid-Afrikaanse situasie is.

Adri van Niekerk spreek die groep tieners Saterdagmiddag toe.

Meer onrusbarend is die feit dat die verhou­ding van probleemgevalle in Limpopo nog hoër is as onder Gautengse jongmense, aangesien die getal deelnemers aan plaaslike kampe soveel kleiner is.
Die afgelope naweek het 48 seuns en meisies tussen 12 en 18 jaar die kamp buite Polokwane bygewoon, teenoor kampe in die stad waartydens meer as 200 jong tieners op ‘n keer saamtrek.
Dit was WIA in Limpopo se eerste tiener­kamp vir die jaar en die behoefte vir nog ‘n uitreik blyk groot te wees.
Na verneem het nagenoeg 80% van die deelnemers van regoor Limpopo reeds teen die oggend aangedui het dat hulle verwerping van beide hul ma’s en pa’s ervaar. Verskeie meisies tussen 16 en 18 jaar het ook op daardie vroeë stadium van die naweekprogram aangedui dat hulle onder erge druk verkeer van maats wat van hulle verwag om seksueel aktief te raak omdat dit cool is.
Na verneem het twee van die kampers toe reeds genoem dat hulle selfsny toegepas het terwyl van die res onder meer finansiële druk wat op hul lewens impakteer as knelpunte laat val het. Dié inligting het egter geruime tyd voor die aand se program, wat meer op die dieper emosionele en tienerprobleme sou fokus, vorendag gekom. Seksuele misbruik tuis was nie uitgesluit nie.
“Dis scary, soos die jongmense sê. Tieners het groot behoeftes,” het WIA-streeksleier, Trienie Mahne tydens ‘n onderhoud Saterdag­middag waartydens sy die omvang van die situasie plaaslik geskets het, gesê.
Sy wys daarop dat hulle tydens die tienerkampe veral met stukkende kinders werk en dit dui terselfdertyd op ‘n behoefte wat vir oueropleiding bestaan. As tieners nie deur waarhede gekonfronteer word nie, kry mens later gebroke volwassenes soos wat ooglopend is tydens die kampe wat deur die loop van die jaar vir volwassenes aangebied word, meen Mahne.
Met die interkerklike kampe word deelnemers van enige agtergrond verwelkom. Volgens haar word die jongklomp op alle vlakke toegerus, insluitend geestelik en emosioneel, en geleer om verantwoordelikheid vir hul keuses te aanvaar. Universele waarhede word gedeel, maar word daar nie na kerkdogma beweeg nie. Die groepleiers laat wel kampgangers Jesus Christus aanneem en word hulle daarna na wedergeboorte gelei. Sy verwys na die wonderwerke wat gewoonlik met so ‘n naweek plaasvind en waarvan daar getuig word voordat deelnemers die Sondag huiswaarts keer.
WIA se benadering van “You win or lose by the way you choose” is gebaseer op die boodskap vervat in Deut 9:13, sê WIA-spreker, Adri van Niekerk ter aansluiting. Benewens dié afgetrede landdros was haar man, Charl, wat ‘n landdros van beroep is ook een van die spre­kers.

‘n Groep jong manne in gesprek oor seksualiteit tydens Saterdag se program.

Adri merk om die beurt op dat die groepe­rings waarmee hulle onder meer werk verteenwoordigend van die deursnee Suid-Afrikaanse tiener is en dat universele probleme ervaar word.
Onder driekwart van die kampgangers word ‘n swak verhouding met pa’s geïdentifiseer. Tydens die Gautengkampe word daar gevind dat ongeveer 180 van die 210 deelnemers verwerping ervaar weens afwesige pa’s, hetsy weens dood, egskeiding, werkverpligtinge of afsydigheid, vertel sy.
Dieselfde getalle geld vir tieners wat selfmoord probeer pleeg het, terwyl saamslaap onder tieners ook ‘n groot probleem blyk te wees. Sowat 30% van meisies wat die kampe bywoon dui aan dat hulle tuis verkrag, seksueel gemolesteeer of misbruik word. So word sake van seksuele aard ondervang, na die relevante instansie verwys en die tieners ondersteun, word verneem.
Sy spreek die gedagte uit dat hulle nie die kampe sonder die Here kan aanbied nie, want dit is net Hy wat genesing kan bring.
Die volgende WIA-kamp vir mans word in November gehou.

Storie & foto’s: YOLANDE NEL
>>observer.yolande@gmail.com

Storie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button