Onkoloog stel boek oor Malan-generasies vry

Plaaslike onkoloog, Hercules Malan, het onlangs sy boek oor die Malans, wat uit vier volumes en 1 833 bladsye bestaan, in Franschhoek vrygestel. DG en JD Malan (beide Danie) was medewerkers aan die laaste drie volumes van die boek wat propvol interessante foto’s van Malan is, asook foto’s van ouer foto’s en dokumente wat hy …

Plaaslike onkoloog, Hercules Malan, het onlangs sy boek oor die Malans, wat uit vier volumes en 1 833 bladsye bestaan, in Franschhoek vrygestel.
DG en JD Malan (beide Danie) was medewerkers aan die laaste drie volumes van die boek wat propvol interessante foto’s van Malan is, asook foto’s van ouer foto’s en dokumente wat hy oor ‘n tydperk van 32 jaar in Suid-Afrika en selfs in Frankryk en Italië opgespoor het.
Malan het die familiege­skiedenis (genealogie) van die eerste Malan, Antoine, wat hom in 1464 in Provence in Frankryk gevestig het, en sy nageslag gevolg. Die eerste Malan het in 1688 in Suid-Afrika aangekom en bekende Malans wat in die boek vermeld word, is DF Malan, eertydse eerste minister van Suid-Afrika, Magnus Malan, voormalige hoof van die weermag, die Springbokrugbyspelers, Avril en Abie Malan, en Petronel Malan, bekende internasionale pianis.
Malan het in ‘n eksklusiewe onderhoud met Polokwane Observer vertel dat hy die meeste van die inligting vir sy boek uit kerkargiewe, meesterskantore en boedeldokumente verkry het.
Hy het ook vraelyste uitgestuur en baie telefoniese onderhoude gevoer. “Ek het plaaslik en oorsee gereis en foto’s geneem terwyl ek met die huidige bewoners van plase wat eens in die Malans se besit was, gepraat het. Bekende wynmaker van die plaas Allesverloren buite Malmesbury, Danie Malan, boer steeds daar,” sê hy.
Die boek bevat ‘n naamlys van al die Malans wat daarin genoem word, asook die besonderhede van vroue wat met die Malans getroud was en dié wat na die Anglo-Boereoorlog na die destydse Duitswes-Afrika getrek het.
Volgens Malan is 150 eksemplare van die boek gedruk en is die koste van die boek nie in geld berekenbaar nie. “Ek dink dit is die duurste boek oor die genealogie wat nog gepubliseer is, maar die lesers sal maar moet sê of dit die beste een is,” sê Malan tong in die kies.
Hy beplan om op 7 Augustus ‘n tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika in die stad te stig en nooi belangstellendes uit om Paul Vorster by 082 804 2112 vir verdere besonderhede te skakel.

Storie en foto: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button