Oud-Zimbabweboer verloor plaas, maar bemoedig ander

‘n Vooruitstrewende boer en predikant wat in 2013 met sy vrou uit Zimbabwe moes vlug en sy plaas en aardse besittings moes agterlaat, Henry D Jackson, koester geen haat nie en toer tans deur Limpopo om ‘n boodskap van hoop en vergifnis te bring. Hy is ook tot lewenslange gevangenisstraf vir veediefstal gevonnis oor ‘n …

‘n Vooruitstrewende boer en predikant wat in 2013 met sy vrou uit Zimbabwe moes vlug en sy plaas en aardse besittings moes agterlaat, Henry D Jackson, koester geen haat nie en toer tans deur Limpopo om ‘n boodskap van hoop en vergifnis te bring.
Hy is ook tot lewenslange gevangenisstraf vir veediefstal gevonnis oor ‘n misdryf wat hy nie gepleeg het nie.
Jackson het belangstellendes verlede Woensdagaand in die stad toegespreek by ‘n geleentheid wat onder meer deur AfriForum geborg is.
Hy is in Zimbabwe gebore en was ‘n sukses­volle boer in die Gweru-omgewing waar hy ook vir ses jaar ‘n NG-predikant was. Hy en sy vrou, Amanda, moes op 29 April 2013 van hul plaas vlug ná dreigemente van besetters, wat deur regeringsamptenare vergesel was. “Die amptenare het net op ‘n dag op my plaas waarop ek elf jaar geboer het opgedaag en my meegedeel dat hulle daar was om my aan die nuwe plaas­eienaar voor te stel,” sê Jackson.
Henry was op borgtog uit nadat hy aan veediefstal skuldig bevind en tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is terwyl hul gevlug het. “Ek is daarvan beskuldig dat ek ‘n kalf wat op my plaas gevind is, gesteel het. Toe ek die dier tussen my vee opmerk het ek dadelik die saak by die polisie aangemeld, maar hulle het niks daaraan gedoen nie. Ek het die kalf 18 maande later verkoop en die kwitansie en geld by die polisie gaan inhandig, waarna ek gearresteer is.”
Volgens Jackson word veediefstal in Zimbab­we as ‘n ernstige misdryf beskou en was die hele kabaal daarop gemik om hom van sy plaas te ontneem.
Gaste kon kopieë van sy boek ‘Another Farm in Africa’, koop waarin hy van sy ontberings vertel. Hy het ook boeke oor sy wedervaringe en motivering geskryf.
Volgens Jackson is sy vertroue in die Here al wat hom staande gehou het. “Ek het geweet dat ons anderkant sou uitkom en glo dat ‘n mens nie met jou lewe kan voortgaan as jy dié wat jou te na gekom het, haat nie. Laat hulle in die Here se hande en maak jouself vry. Dit is nie wat met jou gebeur wat jou lewe bepaal nie, maar hoe jy daarop reageer.”
Jackson meen dat die volk bemoedig moet word. “Daar is altyd hoop en die Here sal op sy tyd uitkoms bring. Die stryd is nie teen mense nie, maar teen die bose geeste wat oor hulle heers.”
Hy het ‘n beroep op die media gedoen om nie net feite oor te dra nie, maar die waarheid te verkondig in ‘n wêreld wat deur onheil gekenmerk word. “Feite verander, maar die waarhede van die Skrif bly altyd dieselfde. Vestig jou hoop op die waarheid en jy sal anderkant uitkom,” was sy boodskap.
Die gesin woon tans in Victoria-Wes en het Suid-Afrika as hul nuwe tuiste aangeneem.

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Henry D Jackson, Desiree Schoeman en Corrie en Johan Willemse by die boeke wat te koop was.

Related Articles

Back to top button