Local NewsNews

Herdenking van Eid in Nirvana

Reeds met die intrapslag trek DJ Opperman se Senior Verseboek aandag op die buffet in die leef-area van Solly en Shahida Hassen se huis in Nirvana, waar Afrikaans met die jare ‘n stewige vastrapplek gekry het. Dis die herdenking van die Moslems se Eid-al-Fitr, wat die einde van Ramadan en ‘n maand lange vas beteken. …

Reeds met die intrapslag trek DJ Opperman se Senior Verseboek aandag op die buffet in die leef-area van Solly en Shahida Hassen se huis in Nirvana, waar Afrikaans met die jare ‘n stewige vastrapplek gekry het.
Dis die herdenking van die Moslems se Eid-al-Fitr, wat die einde van Ramadan en ‘n maand lange vas beteken. Die woonbuurt is Vrydag aan die aktiwiteite wat met die gebeurtenis gepaard gaan geken en dis heel moontlik ook die enigste tuiste in Nirvana waar ‘n mengelmoes van taal en tradisie so sterk aanspraak gemaak het tydens ‘n gesellige samesyn van vriende en familie.
By ‘n tafel met snoepgoed word daar grotendeels oor die tradisies rondom dié geleentheid gesels voordat Solly, wat ‘n treffende kufi (Moslem-gebedstooisel) dra, moet verkas vir die verpligte 12:30-gebedsessie by die ou moskee in die stad.

Shahida Hassen in­spekteer die breyani.

Die horlosie teen die eetkamermuur tik gul die minute af terwyl Shahida tussen Solly se gebruiklike kwinkslae deur uitbrei oor die gebruike en sommer resepte vir die onderskeie eetgoed uitpluis. Daar word tussendeur aangehaal uit André P Brink se geskrifte en diep in die verlede gedelf, met stories oor Solly se grootworddae in Bokstraat in die onderdorp, sy jare in die onderwys en ‘n tydperk as radioman wat ook bekend was vir sy deelname aan ‘n bekende televisie-kletsprogram.
Die aankoms van ‘n voertuig in die oprit kondig besoekers aan. Hul driejarige kleindogter, Imaan kom skaam-skaam die vertrek binne en word met ‘n entoesiastiese “As-Salaam-Alaikum” begroet. Sy beskou die vreemdelinge skugter en wend haar eerder tot haar ma, Shaheema Ismail wat uit die staanspoor in die kombuis doenig raak.
Die Hassens vertel dat hul seun, Ismail, tans vir drie maande in die Libanese hoofstad, Beiroet, werksaam is. Daar word kennis gemaak met die egpaar se skoonseun uit Egipte, Hamada en dis ‘n blye weersiens toe hul negejarige kleinseun, Ziyaad sy verskyning maak. Volgens Shahida was dit vanjaar die tweede keer dat Ziyaad die gebruike gedenk het, alhoewel kinders op die ouderdom van 12 jaar gewoonlik Ramadan begin handhaaf. Die kleinkinders, verduidelik sy, het soos die gebruik is, Vrydag geld as geskenke gekry.
Sy verduidelik voorts dat die vastydperk met aandete die vorige dag teen sonsondergang om ongeveer 17:25 ten einde gekom het. Vrydag se herdenking van Eid-al-Fitr het reeds om 04:30 begin toe daar in die binnekamer gebid is.
Solly sê die Moslem-mans het om 07:00 by die krieketveld agter een van die moskees in Nirvana saamgetrek waarna hulle na die begraaf­plaas is om respek teenoor hul afgestorwenes te toon. Intussen is daar deur die loop van die oggend by vriende en familie se huise aangedoen.

Die tradisionele Indiese peuselhappies, van links is sev en chevro (voor) en pur.

By die Hassen-huishouding het eetgoed en gegeurde soet melk gewag. Shahida, wat na die vroegoggendgebedsessie met voorbereidings vir die koms van kuiergaste begin het, het samoesas met blatjang en die gewone Indiese soutpeuselhappies, chevro, sev en pur bedien. Verder was daar kebabs en brood, wat as puri bekend staan, op die spyskaart. Vir die soettand was daar te kus en keur tussen hawermoutkoekies, konfyttertjies en marmerkoek met sjokoladeversiersel.
Vir die hoofgereg is dit gebruiklik om ‘n groot ete voor te berei en het Shaheema daarvoor gesorg. Die gesprek verskuif na die kombuis sodat daar in die kospotte waarin die breyani geprut het, geloer kon word. Die res van die hoofmaal het bestaan uit gebraaide lamsboud wat met gebakte aartappels en groente saam met piekeluie, papadums en suurmelk voorgesit word. Vir nagereg was daar ‘n soetgereg genaamd sojee, waarvan semolina die hoofbestanddeel vorm.
Shahida sluit haar kulinêre vertelling af met die opsomming dat Eid-al-Fitr ‘n dag lange program is waartydens die kuier met diegene wat mens na aan die hart lê die mees aangename is. Wat sy versuim om by te voeg is dat enige besoek aan die Hassen-huis ‘n gesellige affêre is en nie noodwendig aan ‘n spesiale viering gekoppel hoef te word nie.

Storie & foto’s: YOLANDE NEL
>>observer.yolande@gmail.com

Van die smulgoed op Shahida Hassen se tafel.
Die alombekende samoesa bedien met ‘n witwarm sous. In die agtergrond, konfyttertjies.

Related Articles

Back to top button