Cool kry vastrapplek by Doppermark

Met ‘n tipiese Franse kafee waar keurige fyngebak die aandag getrek het en ‘n verskeidenheid handgemaakte – en kunsitems op uitstalling, het Saterdag se Doppermark as bevestiging gedien dat die tradisio­nele kerkbasaar steeds nie sy verrassingselement verloor het nie. Tydens die byeenkoms in die Gereformeerde Kerk Pietersburg-Noord se tuine het besoekers die geleentheid gehad om …

Met ‘n tipiese Franse kafee waar keurige fyngebak die aandag getrek het en ‘n verskeidenheid handgemaakte – en kunsitems op uitstalling, het Saterdag se Doppermark as bevestiging gedien dat die tradisio­nele kerkbasaar steeds nie sy verrassingselement verloor het nie.
Tydens die byeenkoms in die Gereformeerde Kerk Pietersburg-Noord se tuine het besoekers die geleentheid gehad om eers tussen die items op uitstalling te snuffel of die tafels met lekkernye te besoek, voordat hulle ‘n ontbyt in die kerksaal kon nuttig of by die mark in eg Europese styl onder die bome kon uitspan.
Saterdag se weer het ‘n gulde geleentheid vir ‘n buiteluguitstappie en gesellige samesyn geskep, wat ook een van die doelwitte van die jaarlikse gebeurtenis was, wat vanjaar vir ‘n tweede keer aangebied is.
Benewens die gemeentelede se meelewendheid was daar heelwat buite-uitstallers wat ‘n verskeidenheid ware gebied het, van Barbie-poppe tussen voorheenwaardeerde boeke en ingelegde smulgoed, tot vetplante in kleipotte geberg onder draadkoepels en rokke vir feëprinsesse. Tussendeur is daar vir ‘n jongspanvasbyt voorsiening gemaak.
Met die intrapslag het Alwine Eilers, gemeentelid en eienaar van ‘n lasersny-onderneming, se houtborde besoekers gelok. Die hout is vir die maak van items vir die gemeente se sustersfonds geskenk en sy het handvatsels en grafeerwerk op die hout aangebring. Só het uitstalstukke geskik vir kaas, olywe, biltong of vrugte gestalte gekry.
Aan die ander kant van die tuin het die jong Marizelle Barrett haar by die buite-uitstallers geskaar. Sy leef haar kunssin deur ‘n deeltydse handwerkprojek uit en maak modebykomstighede vir vroue en rokke vir dogtertjies en bak selfs koekies en beskuit.
By die kafee in die skadu van die kerkgebou het ‘n swart fiets neffens die uithangbord aandag getrek. Mandjies met blomme, feestelike partytjievlaggies, kuns op esels en ‘n verskeidenheid koeke onder glaskoepels het tot die eiesoortige tema bygedra. En dan was daar natuurlik die gepaste musiek wat die deurslag
gegee het. Vir die soettand was daar van lemoensjiffonkoek tot Hummingbird-koek, of southappies in die vorm van Quiche Lorraine en ‘n alternatief met biltong en bloukaas.
Susann Coetsee, wie se hand aan die Franse dekor en die fyngebak op die markkafee se spyskaart bespeur was, sê die reël van die mark was ‘n spanpoging om onderlinge meelewing te bewerkstellig, gemeentelede geleentheid te gee om hul talent aan te wend en saam te kuier.
Op taamlik nonchalante wyse het cool Saterdag ‘n vasstrapplek onder die gewone basaarstaatmakers by ‘n mark in ‘n kerk se tuin in Polokwane gekry.

Storie en foto’s: YOLANDE NEL
>>observer.yolande@gmail.com

Marizelle Barrett by haar veelkleurige handewerk en bykomstighede.
Balonne vestig die aandag op basaarstaatmakers beskikbaar by ‘n lekkergoedtafel.
Alwine Eilers met ‘n houtbord geskik vir ‘n verskeidenheid lekkernye.
Een van talle poppe vind ‘n rusplek tussen tweedehandse boeke op uitstalling.
Keurige fyngebak onder glaskoepels.
Susan Coetsee met haar twee dogters, San-Marí en Lizaní, wat vir die bak van die koek by die markkafee verantwoordelik was.

Related Articles

Back to top button