Local NewsNews

Paasverkeer – meer sterftes, spoedvrate en dronkbestuurders

Hoewel meer as 1 000 verkeersbeamptes sedert verlede Donderdag regoor die provinsie vir die Paasnaweek ontplooi is, het meer mense in padongelukke omgekom. Volgens berigte is daar verlede jaar 34 mense in Limpopo dood en vanjaar meer as 35. Die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid se woordvoerder, Matome Moremi-Taueatswala kon nie die finale sterftesyfer verskaf …

Hoewel meer as 1 000 verkeersbeamptes sedert verlede Donderdag regoor die provinsie vir die Paasnaweek ontplooi is, het meer mense in padongelukke omgekom.
Volgens berigte is daar verlede jaar 34 mense in Limpopo dood en vanjaar meer as 35. Die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid se woordvoerder, Matome Moremi-Taueatswala kon nie die finale sterftesyfer verskaf nie en gesê dit sal later deur die nasionale departement bekendgemaak word, maar het bevestig dat meer lewens vanjaar geëis is.
Verskeie noodlottige botsings is sedert Donderdag regoor die provinsie aangemeld terwyl verkeersbeamptes ook verskeie suksesse behaal het deur spoedvrate en dronkbestuurders aan te keer.
Verkeersvolume
Verkeer in ‘n noordelike rigting het Donderdagmiddag erg buite die stad opgehoop en Moremi-Taueatswala het dit aan ‘n vroeëre ongeluk tussen Mookgophong en Tobias waarin drie mense dood is, toegeskryf. Hy het verder gesê ‘n padblokkade wat buite die stad gehou is, is ook onmiddellik gestaak om verkeersvloei te bevorder.
Teen 14:00 Donderdag het 2 122 voertuie per uur deur die Kranskop Toll Plaza beweeg. Verkeer het Sondagmiddag weer drasties toegeneem toe derduisende Zion Christian Church (ZCC) kerkgangers en vakansiegangers huiswaarts gekeer het. Maandag is 2 445 voertuie per uur in ‘n suidelike rigting deur Kranskop getel. Moremi-Taueatswala sê Maandag is agt betaalpunte vir suidelike verkeer geopen en sogenaamde ‘runners’ het tussen voertuie in die lang rye beweeg om betalings by motoriste te neem voor hulle by die betaalpunt kom om die proses te bespoedig.
Ongelukke, kommer oor voetgangers
Die meeste ongelukke is volgens hom deur roekelose en nalatige bestuurders, moegheid en spoed veroorsaak. Nege mense is by Dipereng-nedersetting in Waterberg dood toe ‘n minibus trompop teen ‘n bakkie gebots het. Vyf mense het op die N1 naby Kranskop omgekom en ‘n persoon het in sy motor op die Mogwadipad buite Polokwane verkool nadat hy glo ‘n U-draai voor aankomende verkeer gemaak en ‘n botsing veroorsaak het. Noodlottige ongelukke is ook in Mookgophong (2), Thohoyandou (3), Gilead (2), Mopani (2) en Foskor buite Phalaborwa (2) aangemeld.
“Ons is baie bekommerd oor voetgangers wat doodgery word. Die meeste voorvalle was op die R71 tussen Nobody en Boyne waar verskeie voetgangers naby kuierplekke doodgery is. In meeste voorvalle beweeg voetgangers waarskynlik dronk voor verkeer in,” sê Moremi-Taueatswala.
Verkeer is Sondagmiddag tussen Polokwane en Mankweng opgehou nadat ‘n voetganger doodgery is.
Suksesse
Hoewel verkeers- en polisiebeamptes jaarliks ‘n beroep op motoriste doen om padreëls te gehoorsaam, is daar mense wat steeds nie daarop ag slaan nie. Moremi-Taueatswala sê verkeersbeamptes het Donderdag ‘n spoedvraat wat teen 189 km/h met sy Volkswagen Golf Gti gery het buite Mokopane aangekeer wat Dinsdag in die plaaslike landdroshof verskyn het. Die bestuurder van ‘n Audi wat van agter teen ‘n ander voertuig gebots het sou glo ook in dieselfde hof verskyn het nadat hy ook Donderdag op Ysterberg vir dronk en roekelose en nalatige bestuur toegesluit is. Toe beamptes op die toneel opdaag is die bestuurder se bloedalkoholvlak op 0,88 mg/l getoets. Hy is summier gearresteer. Die toelaatbare lesing is 0,05 mg/l.
Moremi-Taueatswala sê ‘n kommerwekkende 34 besope bestuurders is Donderdag tot Saterdag aangekeer en meer as 2 000 boetes is vir verskeie verkeersoortredings uitgereik. Ernstige oortreders sal in verskeie howe verskyn.

Storie & foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Verkeer hoop op die N1-verbypad op.
Lugfoto’s van die jaarlikse Moria-samekoms by Boyne. (Verskaf)
Lugfoto’s van die jaarlikse Moria-samekoms by Boyne. (Verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button