Local NewsNews

Eskom dreig Modimolle-Mookgophong met beurtkrag

Belangstelling vir die Waterberg Sakekamer se spesiale vergadering wat vanaand (Donderdag) gehou word om die aankondiging van Eskom dat kragtoevoer na dorpe in die Modimolle-Mookgophong Munisipaliteit ná 31 Maart tot beurtkrag beperk gaan word te bespreek, loop hoog. Die vergadering begin om 18:30 by die Koro Creek gholflandgoed. Dit volg nadat die munisipaliteit in versuim …

Belangstelling vir die Waterberg Sakekamer se spesiale vergadering wat vanaand (Donderdag) gehou word om die aankondiging van Eskom dat kragtoevoer na dorpe in die Modimolle-Mookgophong Munisipaliteit ná 31 Maart tot beurtkrag beperk gaan word te bespreek, loop hoog.
Die vergadering begin om 18:30 by die Koro Creek gholflandgoed.
Dit volg nadat die munisipaliteit in versuim gebly het om sy lopende rekeninge vir elektrisiteit wat aan verbruikers in Modimolle, Mookgophong en Vaalwater gelewer word, stiptelik aan Eskom te betaal.
Sonet Ebersohn, sekretaresse van die sakekamer, het vanoggend (Donderdag) bevestig dat meer as 120 persone reeds aangedui het dat hulle die vergadering sal bywoon. “Die voorsitter van die sakekamer, Wiets Botes sal terugvoering gee oor onderhandelinge met Eskom en ook oor die regsadvies wat van ‘n advokaat ingewin is oor die aangeleentheid. Die burgemeester van die Modimolle-Mookgophong Munisipaliteit, Marlene van Staden, sal ook teenwoordig wees,” sê Ebersohn.
Van Staden het aan Polokwane Observer bevestig dat die munisipaliteit inderdaad agterstallig is met betalings aan Eskom en dat die laaste betaling wat verskuldig was, op 18 Januarie gemaak is. “Die munisipaliteit is deurlopend met Eskom in verbinding oor hierdie aangeleentheid en ek sal vanaand terugvoering kan gee oor die huidige stand van sake,” het Van Staden vanoggend aangedui.
Eskom se kliëntediensbestuurder, Hilton Rampedi, kon nie teen druktyd op sy selfoon vir kommentaar bereik word nie.
Ebersohn kan by 014 007 0572 of 083 501 0079 bereik word vir verdere inligting oor die vergadering.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button