NewsSchools

Peet Bredenkamp – streng skoolhoof met hart van goud

Pietersburg Laerskool se sukses van die afgelope 110 jaar lê in die fondamente van die skool wat suiwer op die Woord van God gebou is, die leiers­eienskappe, lojaliteit en toewyding van leerkragte en leerders sowel as die betrokkenheid van die gemeenskap. So meen Peet Bredenkamp, die langsdienende skoolhoof wat al 26 jaar voor loop. “Suidskool …

Pietersburg Laerskool se sukses van die afgelope 110 jaar lê in die fondamente van die skool wat suiwer op die Woord van God gebou is, die leiers­eienskappe, lojaliteit en toewyding van leerkragte en leerders sowel as die betrokkenheid van die gemeenskap.
So meen Peet Bredenkamp, die langsdienende skoolhoof wat al 26 jaar voor loop. “Suidskool is uniek omdat ons visie en missie op die Woord van God gebaseer is wat die fondament en bron is waaruit die skoolbestuur, onderrig en opvoe­ding gedryf word. Die Here se Woord is die lig vir ons voet, die lamp vir ons pad en ons besef ons volkome afhanklikheid van Hom. As ons terugkyk is alles net genade. Almal wat deel van die skool was en is kan getuig dat ons skool geseënd is en dat dit werklik goed met ons gaan.”
Die skool se onderwysers en ouers is vir hom kosbaar. “Leerkragte se onbaatsugtige insette en werk kan nie ongesiens verbygaan nie. Hulle lewe om net die beste vir elke kind voor hom of haar in die klas te gee wat weerspieël word in die leerders se prestasies, selfs op hoërskoolvlak en by tersiêre instellings. Die ouerkorps is die beste ondersteuningstruktuur van die skool en algemene ondersteuning van die Polokwane-gemeenskap, veral kerke, dra daartoe by dat elke kind tot sy volle potensiaal ontwikkel en sy sukses verseker is.”
Bredenkamp spog met statistiek wat wys dat Suidskool oor die afgelope 110 jaar ‘n gemiddeld van meer as 96% vir skoolbesoek van leerkragte en leerders gehandhaaf het – dit beteken volgens hom dat onderwysers en leerders gelukkig is.
“Strukture moet verduidelik en verstaan word want ‘n ingeligte ouer, leerkrag of leerder is gelukkig. Ek poog daagliks om onderwysers en leerders met waardes en norme soos in die Skrif, akademies en in persoon of karakter te bemagtig. Ek is streng en konsekwent en ‘n voorstander van grense wat sekuriteit skep.”
Die streng man het ‘n sagte plekkie vir behoeftige leerders. Een van sy loopbaanhoogtepunte is die stigting van die Ystertjies, ‘n inisiatief waar die skool tans na ongeveer 40 behoeftige leerders en gesinne omsien. Kos word daagliks aan hulle by die skool voorsien en ‘n kospakkie word vakansies opgemaak en saam huis toe gestuur. “Die idee om daadwerklik iets te doen is gebore nadat ek jare gelede ‘n klag ontvang het van ‘n kind wat gereeld lekkergoed by ‘n winkel by ‘n vulstasie steel. Dié kind het gesteel omdat hy honger was en die inisiatief om die Ystertjies te stig het gestalte gekry.” Sy liefde vir kinders maak dit vir hom moeilik om nie persoonlik betrokke te raak nie. “Ek lê snags wakker oor kinders, ouers en leerkragte. Ek staan aan die stuur van ‘n baie groot gesin en deel in almal se vreugde en hartseer en probeer eerder oplossings vind as om myself te distansieer.”
Bredenkamp sê dat hy 20 jaar gelede gereken het dissipline, finansiering van skole en die beskikbaarheid van onderwysers sal die grootste uitda­gings van die toekoms word. “En hier is ons vandag waar leierskap die grootste uitdaging is gevolg deur dissiplinêre stelsels wat destyds geïmplementeer is waarvan ons vandag die gevolge sien. Baie skole moet self geld genereer en is van donasies afhanklik terwyl goeie onderwysers baie skaars is.”
Oor die toekoms bly hy positief en glo die skool van sal van krag tot krag groei.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button